Plaasarbeiders van CERES skitter!

Arbeidsbediening se gewilde BrightStar-kursus het hierdie jaar ook ’n bietjie gesig gaan wys op die platteland. Dit is in die Ceres-omgewing op die plaas, De Eiken, vanaf 22 tot 24 September deur
ds Jannie Booysen aangebied.

Tydens hierdie aanbieding is 21 mense van De Kock Boerdery, van wie die produksie- en werkwinkelbestuurder (wat toevallig met mekaar getroud is) ook deel van die groep was, opgelei.

Lene November, sekretaresse van Arbeidsbediening en assistent tydens die aanbieding, gee haar indrukke: “Die impak was baie positief en die kursusgangers het dit baie inspirerend beleef. Een van die dames het sommer op die eerste dag al gesê dat sy graag wou hê haar kind (wat nou met Graad 12 besig is) moet Landbou gaan studeer, maar dat sy so pas in die kursus geleer dat sy nie namens hom kan keuses maak nie.

“Die mense het goed gevoel oor hulleself en hul nuwe insigte, soos hul doel op aarde en hul waardes wat opnuut ontdek is. Hulle is ook positief om dit wat hulle geleer het, te gaan toepas in hul werk en ook in hul alledaagse lewe. Hulle was baie gemaklik en tevrede met die manier waarop ds. Jannie die kursus aangebied het en het dan ook hul waardering teenoor hom uitgespreek. Selfs die Sondag tydens die erediens het die pastoor wat die diens waargeneem het die kursusgangers gelukgewens en gesê BrightStar is ’n móét.

 

Lene vertel verder: “Die eienaar, Wilhelm De Kock,  het ’n boodskap gestuur om sy tevredenheid en dank uit te spreek oor die kursus; hy het goeie terugvoer van die werkers gekry. Die eienaars het natuurlik ’n baie groot indruk op ons gemaak met die manier waarop hulle met hul werkers omgaan. Daar is ’n baie mooi en indrukwekkende verhouding tussen werkgewer en werknemer. Die eienaar is direk by sy werkers betrokke en sy respek en omgee help skep ’n positiewe gees op die plaas.

“As daar ander plase is wat baie graag die kursus aan hul werkers wil aanbied, moet hulle nie huiwer om ons streeksbestuurder, Carin Brink by cbrink@kaapkerk.co.za te kontak nie. Mense is soms baie onseker oor hulleself en weet nie mooi waarom hulle bestaan nie, maar by BrightStar kry hulle ’n dieper insig in hul persoonlike waardes en hul lewensdoel. Jesus wou aan mense hul waardigheid teruggee en in BrightStar help ons mense om hul waardes te ontdek.”

Lees meer van BrightStar by http://imsacape.christians.co.za/bright-star-programme/

 

 

One thought on “Plaasarbeiders van CERES skitter!

  1. Fantastiese goeie nuus-storie wat ons so nodig het in SA! Ons het nodig om die stories van hoop te vertel sodat mense bewussyn kan wees van die mooi dinge waarmee God besig is midde van die uitdagings van ons pragtige land!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *