BIBLIA Houtbaai entoesiasties oor kinderontwikkeling

Sandra Leeuwner, geestelike werker van Biblia in Houtbaai, vertel dat hulle nog steeds besig is met die 1 000 Dae-program waarmee hulle verlede jaar begin het. Hulle gebruik die Embrace-programinilgting om aktiwiteite met mammas te doen, bv. deur rateltjies te skud as gehoorstimulasie, en vele meer.

Vanjaar wil hulle egter ook individuele sessies aanbied, maw hulle wil met een ma en een kind per keer werk. Op hierdie manier kan die kind se vordering ook baie beter gemeet word. Hulle het ‘n baie goeie program wat die mammas kan toerus om hulle kinders se ontwikkeling op allerlei maniere te stimuleer, bv. hul groot – en klein motoriese hand-oog-koördinasie, balans, ens. Hulle beplan om ook kontak met klinieke te maak, sodat klinieke die mammas na BIBLIA kan verwys om deel te raak van hierdie opwindende program.

‘n Ander baie belangrike faset van Sandra se bedieningsfokus vanjaar is ook om vir werklose mammas te help om toegang te kry by moontlike werksgeleenthede. Baie van die mammas het ‘n groot behoefte aan ‘n addisionele inkomste en is selfs bereid om ad-hoc skoonmaakwerkies te doen daarvoor. Van die mammas het ook kwalifikasies, maar sukkel om werk te kry. Ons wil veral die kerke in Houtbaai bereik om mense hiervan bewus te maak.  

Sandra is tans besig om haar kursus in First Step en Ever Green Parenting te doen en beplan om met al hierdie kennis Houtbaai-vissersgemeenskap se ouers toe te rus met vaardighede om kinderdissipline met deernis toe te pas.

Sterkte aan jou en jou span met hierdie wonderlike inisiatief, Sandra.

Kontak Carin Brink by cbrink@kaapkerk.co.za vir meer inligting.