GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 14 OKTOBER 2024
RCL JAAR B – EEN EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
Gebed na aanleiding van Psalm 90 (lees 2020-vertaling)
Here, hoe bereken ek, sterflike stofmensie,
die waarde van die lewensdae uit u hande,
U wat van altyd af en vir ewig God is?
Kan ’n wiskundige formule ’n mensekind
insig gee, in wat elke lewensdag werd is?
Ek kan die waarde van daaglikse lewe probeer skat, Here,
maar my beste poging bly steeds gebrekkig.
Wat wel vaagweg tot my begin deurdring,
is die bewussyn van ’n gebrek aan wysheid,
wat slegs U vir my/vir ons kan leer.
Here, leer ons die waarde van ons lewensdae.
Dié gebed van Moses, die man van God, Here –
lê boustene vir die wysheid wat ons begeer.
Die bidder werp homself verlangend op U.
Die diep verlange van ’n mens soos gras,
ken die taal van lament en afhanklikheid.
Here, ontferm U oor u diensknegte.
Vir gelowige soekers na harte vol wysheid, Here,
bevat die woordeskat van geloofswysheid,
begrippe wat u verbondsliefde oop praat.
U vrye verbintenis aan sterflike mense,
wek die begeerte na u ontferming vir ons.
Here, versadig ons met u troue liefde.
Om iets van die waarde van ons lewensdae
net maar te begin verstaan, Here –
beweeg my tot nadenke en herinneringe
aan hoe U lewensveranderend betekenis gee
aan ons lewe deur u teenwoordigheid.
Here, mag u diensknegte altyd u werk onthou.
Wat ’n woordeskat vir wysheid afrond, Here –
is erkenning dat dae sonder God se seën leeg is.
Daarom bid ons saam met die man van God,
dat u goedheid oor ons sal wees.
Here, ag tog ons handewerk waardig.
Amen