GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 21 OKTOBER 2024
RCL JAAR B – TWEE EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
Gebed na aanleiding van Psalm 104:1-9, 24, 35c (lees 2020-vertaling)
Here, my God, hoe reageer ’n mensekind op u talryke werke?
Wat is gepaste gedrag vir u skepsel, wat iets begin raaksien
van alles wat U in wysheid gemaak het, en dan bewus word
die ganse aarde is gevul met alles wat aan U behoort?
Here, my God, kán ek hoegenaamd met insig oor U praat?
Watter soort taal laat enigsins reg geskied aan wie U is?
U is só onmeetbaar anders as alles wat aan U behoort;
uitermate verhewe bó die gedagtegang van mense.
Here, my God, om net eers iets te verwoord
van wat U vir my van Uself laat sien het,
neem my op bane buite die hier-sigbare:
Beeld en gelykenis benoem u heerlikheid.
Dat my woorde U nie kan definieer nie, Here, my God,
verhinder egter nie dat ek verwonderd kan praat, oor
wat ek alles op aarde sien en beleef wat U gemaak het
en U steeds onderhou.
Waarvan ek toenemend bewus word, Here, my God –
waarvoor my waardering en bewondering net groei,
is die kunstigheid en presisie waarmee U elke ding
gevorm en ’n plek in u skepping gegee het.
Here, my God, U skeppingskrag en vaardigheid
slaan my asem weg en laat my woorde opdroog.
Die harmonie van water, wind, vuur en aarde –
bevestig wie U is en wat U vir u skepping begeer.
Dan is daar ook nog die fyn berekende orde –
wat U vir alles en almal stel, Here, my God.
Geen besonderheid het U ontglip nie.
U stel grense sodat ons vry kan leef.
Here, ons God, in gemeenskap met u talryke werke –
sien ons wat U van Uself vir ons wys: wié U is,
wat U alles doen en hoe U handel.
Dit bied troos dat U sorg en onderhou.
Nou kan ek reageer op wat U aan my openbaar.
Ek spoor my siel aan om U te loof, Here, my God.
Dalk is die taal vir lof net ’n klank uit die hart,
in die vorm van ’n woord: Halleluja!
Amen