Na aanleiding van IMSA (Industrial Ministry South Africa) Kaapstreek se resolusie dat PAK’s (plaaslike aksie komitees) erns moet maak met die behoorlike akkreditasie van hulle dienswerkers, het ds Floors Meyer, opleidingskoordineerder van Arbeidsbediening in George, die afgelope Saterdag hul akkreditasieprogram aan ‘n tweede groep van 14 van Mosselbaai se dienswerkers aangebied. In totaal het 34 van Mosselbaai se dienswerkers nou al die program deurloop.
Die akkreditasie-program bestaan uit vier fasette:
- ‘n Induksie-module wat die geskiedenis, struktuur en organisasie, teologie, filosofie en bedieningspraktyk van Arbeidsbediening toelig;
- Die bestudering van die Riglyne vir Geestelike Werkers en ondertekening daarvan as toewyding (commitment) aan die handelsmerk (brand);
- Die aanbieding van die L10T-program as ‘n praktiese werkbare model vir evangelisasie in die markplek;
- Die oorhandiging van ‘n Sertifikaat van Bywoning en ‘n ID-plaatjie wat hulle as geestelike werkers behoorlik identifiseer.
Uit die aard van die saak moes Floors-hulle ‘n paar kreatiewe aanpassings maak om by die COVID-19-protokol in te pas, maar die opleiding het goed verloop en is positief deur die groep ontvang.
Die oorhandiging van die tweede groep se sertifikate sal op 3 Augustus plaasvind. Daar sal waarskynlik nog ‘n derde opleidingsessie vir Mosselbaai aangebied moet word.
Dis vir ons ‘n riem onder die hart om te weet ons stuur geakkrediteerde dienswerkers in na ons plekke van werk waar beide werknemers en werkgewers geestelik bedien kan word.
Kontak
Floors Meyer
floors@mweb.co.za






