GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 24 JUNIE 2024
RCL JAAR B – VYFDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
(Gebed na aanleiding van Psalm 107:1-3, 23-32 [lees 2020-vertaling])
Here, ek dank U omdat U goed is.
Vrygekooptes uit elke windstreek,
getuig van u ewigdurende troue liefde.
Ons verhale getuig van nood en benoudheid,
waarin U tot ons redding gekom het.
Daarom móét u vrygekooptes U verheerlik!
Van die geloofsverhale wat ons hoor, Here –
is dié van mense wat by die see in bote klim.
Hulle maak hul lewe op die groot waters;
afhanklik van die see vir daaglikse brood.
Ook hulle wil U loof oor u troue liefde.
En Here, wanneer hulle hul stories vertel;
hoe hulle in nood na U om hulp geroep het
en U hulle uit hul benoudheid gelei het,
ontvou ’n beeld van U, wat ek nie ken nie.
U is soveel méér en groter as wat ek/wat ons besef.
Here, die stories van gelowige ‘see-mense’,
maak my bewus van ’n totaal ander leefwêreld;
van die ervarings, behoeftes en nood van u vrygekooptes
waarvan ek min begrip het, verslae oor hul ontberings.
Maar U, Here, U weet óók van hulle en gee ag op hul hulpgeroep.
Wonderbaar is hul geloofstories oor U wat ingryp, Here:
U maak storms stil en laat golwe bedaar;
U lei hulle uit storms na veilige hawens;
U wonders onderskep hul waardelose vernuf.
Here, hulle stories leer ons van u troue liefde vir almal.
Nou bid ons vir mense wat op die groot waters moet lewe, Here.
Bewaar hulle van die stormwind en die deinende golwe.
Versorg asseblief hul mense wat iewers op land vir hulle wag.
Wees vir hulle geselskap en troos in hul eensaamheid op die water.
Ja, dank die Here, want Hy is goed!
Amen