Arbeidsbediening Tuinroete gooi vangnet wyer

FOTO  Vlnr: De Mist van Zyl, Odile de Kock, Elphia Watson, Floors Meyer, in die middel Louis Hough – TIR fasiliteerder

 

Die dienste wat Arbeidsbediening aan die markplek in die Tuinroete kan aanbied, het die afgelope tyd ‘n lekker hupstoot gekry danksy die toevoeging van ‘n span geakkrediteerde traumaberaders.

Die Suid-Afrikaanse samelewing is in ‘n fase van sy  geskiedenis waar baie mense die slagoffers word van ernstige traumatiese insidente met ingrypende gevolge vir hulle persoonlike welwese.  Die nuusmedia verskaf weekliks berigte oor kapings, gewapende roof, inbrake, diefstal, ens.  Werkgewers en werknemers wat aan die ontvangkant daarvan is, word emosioneel daardeur diep ontwrig.

Op ‘n ander vlak dra die sukkelende ekonomie dikwels by tot werkgewers en werknemers se emosionele trauma: besighede moet soms die deure sluit en eienaars het slapelose nagte oor die ervaring van verlies wat daarmee gepaard gaan.  As gevolg van die ekonomiese druk word werknemers dikwels  afgedank, afgelê, of herontplooi.  Dit dompel baie werkers dikwels in ‘n bestaanskrisis.

Arbeidsbediening het hierdie nood in die markplek raakgesien.  In reaksie daarop het ons vier van ons medewerkers as traumaberaders laat oplei wat nou oor die vaardighede beskik om werkgewers of -nemers wat aan emosionele insidente blootgestel is, betekenisvol te ondersteun.

Gedurende April het Louis Hough vir ons die Traumatic Insident Reduction-kursus kom aanbied.  Louis is ‘n internasionaal-geakkrediteerde fasiliteersder van TIRA (https://www.tira.org/).  Die beradingstegniek word deur die VSA se National Registry of Evidence-based Programs and Practices (NREPP) erken as ‘n “evidence based”-tegniek vir die berading van trauma.  Deur dié tegniek te gebruik help die berader die getraumatiseerde om die trauma te integreer en sodoende los te kom van die emosionele effek daarvan.

Ons span beraders is nou gereed om hierdie diens aan die markplekke van George te lewer.  Werkgewers en -nemers wat van hierdie gespesialiseerde diens gebruik wil maak, kan  meer inligting bekom deur vir Adrinette Muller in ons kantoor ‘n epos te stuur na arbeidsbediening.tuinroete@gmail.com  Belangstellendes kan ook vir Floors Meyer skakel by 0826842735.

Arbeidsbediening se kantoor is in die Albertasentrum op h/v Albertstraat en Cradockstraat.