Danny Arendse se eerste Kersfees as Christen was in die gevangenis. Daar het hy ‘Stille Nag’ gehoor; sy ma het dit altyd gesing; ook geestelike liedjies wat sy pa gesing het.
Maar hoe het Danny se pad tot daar geloop?
Sy pa was ’n bouer en sy ma ’n diaken in die Congregational Kerk. Hy is een van agt kinders en die enigste wat by bendebedrywighede betrokke geraak het. Sy hele familie het in Bergstraat in Sentraal-Paarl gewoon, maar is in 1965/66 as gevolg van die Apartheidswetgewing gedwing om na Paarl-Oos te verskuif.
Danny het altyd ’n goeie verhouding met sy ma gehad; sy het nooit opgehou om vir hom te bid nie. Sy verhouding met sy pa was meer kompleks. Hy was ’n voorbeeldige seun wat skolasties goed op laerskool gevorder het en selfs die rugbykaptein van die A-span was.
Sy lewe begin egter in die hoërskool verander waar hy by ’n bende aansluit, onder andere as gevolg van sy opstand teen hul gedwonge verskuiwing. Op 16-jarige ouderdom gaan werk hy by die KWV, slaap altyd buite saam met sy bendevriende en beroof mense.
| Danny Arendse |
Op 17 beland Danny in ’n verbeteringskool en nog later in ’n strafhostel vir jeugdiges. Sy ouers kom haal hom nadat sy straf na ’n paar maande uitgedien is.
Terug by sy ouerhuis ag Danny homself nou as baie belangrik, aangesien hy hoog in die benderangordes gevorder het. Nadat een van Danny se bendevriende egter sy oudste broer doodgesteek het en as tronkstraf na Pollsmoor is, sorg Danny dat hy op 21-jarige ouderdom ook daar beland; hy wou uitvind waarom sy broer vermoor is.
In 1982 beland Danny in die Victor Verster-gevangenis waar hy vir twee weke in maksimum-sekuriteit toegesluit is.
Danksy gevangenisbediening was dit ook die plek waar hy die Here se stem gehoor het: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te wees.” (Joh 1: 12). Die Anglikaanse priester wat die 400 gevangenes bedien het, het Danny in sy nuwe lewenskeuse ondersteun.
Danny moes egter nog 30 maande van sy vonnis uitdien en was nog saam met sy bendevriende in dieselfde sel. Hy was egter vasbeslote om sy lewe te verander en het ’n Bybel korrespondensie-kursus voltooi.
In 1987 het Danny by Langeberg in die Paarl werk gekry waar hy mnr Van der Merwe van Arbeidsbediening ontmoet het. Dit het sy hele lewe nuwe betekenis gegee – hy het later ’n hulpwerker geword en dien tans op Arbeidsbediening se bestuur. Hy het maandeliks ongeveer 800 kontakte met werkers by ondernemings.
Danny is nou 62 en ’n gelukkige gesinsman. Van hul ses bendelede lewe nog net drie, en hulle het ook hul lewens vir Jesus Christus gegee.
Kontak
Vera Blaauw
verablaauw47@gmail.com






