FOTO: Die vrugtespan besig om pere te laai.Vlnr: Christo Crous, Lourens Swart, Leon Marais, Jan van den Berg en Frans Cronje.
Helderbergkom se jaarlikse groot fondsinsameling ten bate van Arbeidsbediening was weer eens ’n GROOT sukses – danksy oop harte en vrywillige hande!
“Die mark het ongeveer 25 jaar gelede begin toe oorlede ds Bertus Viljoen en sy vrou met hul motor gaan vrugte haal het by boere wat saam met hom op universiteit was,” vertel Frans Cronjé, een van Arbeidsbediening se vrywilligers. “Hulle het dan die vrugte kom verkoop met die doel om genoeg fondse te bekom om ‘n permanente werker by Arbeidsbediening in die Helderberg-gebied aan te stel.
“Die pogings wat hulle begin het, het dermate uitgebrei dat ons tans met drie voertuie met sleepwaens na die plase gaan. Die vriende van destyds se kinders het intussen die boerderye oorgeneem en ondersteun ons nog al die jare. Wanneer ons bel, is daar nie ‘n oomblik se huiwering nie, maar word ons uitgenooi om te kom haal wat beskikbaar sal wees.
“Hierdie jaar was weer eens nie ‘n uitsondering nie, en ons is weer verras met die skenkings wat ten spyte van die droogte, aan ons gegee is. Daar was perskes, pere, tamaties, uie, aarbeie en natuurlik ‘n groot hoeveelheid druiwe.
“Buiten hierdie groot geskenk bak die NGK Strand Moedergemeente vir ons pannekoek en skenk melktert, die NGK Suiderstrand se dames skenk vir ons koek, die NGK Lourensrivier se dames bak brood en beskuit en die NGK Strand-Noord se ds Leon Marais en lidmate help met die vervoer.”
Wat ’n lekker span; dit wys jou net wat samewerking met die regte gesindheid alles kan vermag!
Kontak
Frans Cronje
cfcronje43@gmail.com






