Arbeidsbediening George kommunikeer dwarsdeur grendels

Floors Meyer, pastorale werker en opleidingskoördineerder van Arbeidsbediening in George is dit eens dat mens in hierdie grendeltyd veral die persoonlike kontak met mense mis. Hy vermoed dat dit die dryfveer agter die onlangse oopstelling van kerke was. Mense het van nature ‘n diep sosiaal-maatskaplike behoefte om kontak met mekaar te maak, om gesien te word, geselsies aan te knoop en te voel jy’s iemand – iets wat selfs nou in die oopstelling van kerke, ‘n risiko bly.

“Die grendeltyd het ons egter gedwing om ons bediening in hierdie tyd innoverend aan te pak,” sê Floors, “en daar is heelwat nuwe tegnieke wat ons al in hierdie tyd ingespan het.

“Eerstens het ons begin om zoom-vergaderings te hou,” vertel Floors, “die tegnologie help ons baie en ons besef ons hoef nie noodwendig altyd fisies in mekaar se teenwoordigheid te wees nie; hierdie manier van vergader, spaar ons ook baie tyd (en geld).

“Tweedens stuur ons ook weekliks relevante oordenkings per WhatsApp na ons dienswerkers uit wat dit dan weer na hul onderskeie besoekpunte versprei. Ons wil graag die band wat daar tussen die dienswerker en werkgewer-werknemer bestaan op hierdie manier behou en versterk. Ek deel ook hierdie oordenkings op Facebook, en aangesien mense dit dan like and share, is ek in die laaste tyd oorval met vriendskapsversoeke – iets wat vir my wonderlik is – wie sou nou ooit kon dink dat my vriendskapskring in grendeltyd, van alle tye, so sou uitbrei!”

Floors vertel verder: “Derdens probeer ons met die Wellness Conversation-tegniek pastorale gesprekke voer met mense wat diepe onsekerheid, vrees, angs, en depressie in hierdie tyd ondervind.  Ons doen dit telefonies, maar ek kon ook sedert Maandag twee afsprake in ons kantoor nakom en mense met hierdie metodiek help.

“Vierdens kon George-Suid met ander vennote en ons ekumeniese kerk ook ‘n sopkuimbuis begin wat daagliks sowat gemiddeld 220 mense van een maaltyd per dag voorsien. Ons Arbeidsbedieningsdienswerkers skakel ook dan by hierdie kosvoorbereidingspanne in en ondersteun ook met die insameling van produkte en die bediening van die kos.”

Kontak

Floors Meyer
floors@mweb.co.za