Foto: Patrick en Yolanda Jefthas
Dis altyd lekker om ‘n telefoonoproep met goeie nuus te ontvang, en so was dit ook vir Arbeidsbediening Kaapstreek se bestuurder, Carin Brink, toe sy onlangs ‘n oproep van Patrick Jefthas ontvang het. Patrick was vroeër ‘n gesondheidsinspekteur in die Paarl en is nou afgetree en woon tans saam met sy vrou, Yolanda, op Citrusdal.
Aangesien hy jare gelde in die Paarl by Arbeidsbediening betrokke was, wou hy nou weer by hierdie bediening betrokke raak. Toe hy uitvind dat daar nie ‘n tak van Arbeidsbediening in Citrusdal is nie, het hy via ds André Boezak van die VGK in Oudtshoorn gehoor hoe hy te werk moes gaan om by Carin Brink uit te kom.
Daar is dadelik planne beraam: Carin besoek hom hierdie maand op Citrusdal en sal dan oorweeg om ‘n tak daar te begin. Die plaaslike skoolhoof het ook alreeds vir Patrick genader om hulle skool ten opsigte van probleme voortspruitend uit enkelouergesinne by te staan. Sy passie vir Arbeidsbediening, jarelange bedieningservaring in die Paarl en twee diplomas wat hy in Bediening en Bybelkunde onderskeidelik verwerf het, maak hom ‘n ideale kandidaat om as geakkrediteerde vrywilliger Arbeidsbediening op Citrusdal te begin. Daar sal ook gesels word oor hoe Arbeidsbediening vir Patrick verder kan toerus met hul bestaande programme soos BrightStar, ens. (http://imsacape.christians.co.za/wat-doen-ons/).
Carin sal hierdie inisiatief in samewerking met Martin Steyn, die NG Kerk-predikant wat ook by Biblia betrokke is, en ook moontlik kerkleiers van ander denominasies aanpak.
Kontak
Carin Brink
cbrink@kaapkerk.co.za






