Arbeidsbediening lewer nie net broodnodige geestelike bediening aan honderde werknemers en -gewers in die Kaapstreek nie, maar bemagtig ook mense met lewensvaardigheidsprogramme en lewer lewenskrisisberading.
COVID-19 het egter veroorsaak dat hierdie besondere diens nie soos normaalweg kon aangaan nie en mens wonder hoe op aarde hulle met hul bedieningsuitdaging kon voortgaan. Ons het met Floors Meyer, IMSA (Industrial Ministry SA) -opleidingskoördineerder van Arbeidsbediening Tuinroete, gaan gesels oor hoe dit hulle daar geraak het.
Hy vertel: “Die onlangse vlak drie-beperkings het ‘n ernstige demper op ons bediening geplaas. Tydens hierdie fase moes ons die besoeke van ons geestelike bediening aan firmas tydelik staak. Ons moes ook die aanbieding van ons BrightStar-vaardigheidsprogramme herskeduleer vir die jaar. Die finansiële geletterdheids- en akkreditasiewerkswinkels moes ook uitgeskuif word na ander datums; alles baie groot ontwrigtings.”
Volgens Floors het die inperking egter ook positiewe gevolge gehad. Hy verduidelik: “Dit het vir ons gedwing om ons tradisionele bedieninge met ‘n vergrootglas te herbedink en vir onsself af te vra of dit nog toeganklik en relevant is vir die moderne wêreld en nuwe normaal wat geskep is? Ons gebruik WhatsApp-boodskappe en Facebookplasings om relevante materiaal na die eis van behoeftes aan ‘n breër publiek beskikbaar te stel en is nou nie meer net op ons besoekpunte gefokus nie – ‘n wonderlike uitbreiding van ons reikwydte!”
Floors verduidelik verder: “Tweedens wys die pandemie ook foutlyne in ons samelewing helderder uit; ek ervaar ‘n bereidheid by mense om daaroor te praat en ernstig daaroor te besin. Dit skep vir ons geleenthede om van hierdie foutlyne te probeer reguit trek; alles baie waardevolle prosesse.”
“Derdens werk die pandemie soos ‘n versneller,” vertel Floors. “Dit bring die toekoms na die hede. So what? word nou What if? Kan ons samelewing anders lyk?” Floors praat juis deesdae op hul plaaslike radiostasie oor die belangrikheid van sosiale kohesie – iets om baie opgewonde oor te word!
Gelukkig het die onlangse verslapping van die inperkingsmaatreëls dit nou weer moontlik gemaak om stadigaan te kan terugkeer na die bediening van werkernemers en -gewers van firmas en daar word opnuut gekyk na nuwe datums vir die aanbieding van hul werkswinkels en opleidingsgeleenthede.
Mag julle vlam hoog bly brand en mag julle steeds voortgaan om die Lig en Sout van die aarde te wees daar in George, Floors.
Kontak Floors Meyer by (+27) 82 684 2735 of floors@mweb.co.za.