Die Arbeidsbediening/MES-vennootskap help maak ‘n verskil daar waar jy werk

“Ons wil Collins Bomali eintlik by Arbeidsbediening steel,” vertel Ilse Maartens, bestuurder van MES (https://mes.org.za/) in Bellville, tong in die kies. Hulle slagspreuk, “Changing the heart of the city”, laat snap jou waarom hulle mense soos Collins van Arbeidsbediening nodig het.

Collins wat al jarelank die Transnet-personeel in die Kaapse Metropool geestelik bedien, is ook die afgelope twee jaar op ‘n deeltydse basis in diens van MES. Sy kennis en vaardighede wat hy oor die jare by Arbeidsbediening opgebou het, is van onskatbare waarde waar hy tans as supervisor by MES se werkrehabiliteringsprogram, GROW, werk.

MES is in 2008 amptelik gestig nadat die Presbiteriaanse Kerk in Bellville, Bellville Care Mission, NG Kerk Vredelust en die moderatuur van die NK Kerk Sinode Wes-en-Suid-Kaapland begin kyk het na hoe die middestedelike bediening in die Kaapse Metropool lyk.

Nadat daar gesprekke met Johan Botha, vorige bestuurder van Getuienisaksie waar Arbeidsbediening een van die taakspanne is, gevoer is, is MES gereeld na Getuienisaksie se Algemene Jaarvergaderinsg genooi waar Ilse dan ‘n spreekbeurt sou kry.

Die samewerking tussen MES en Arbeidsbediening het dus heel natuurlik gekom, aangesien die mandate en verhoudings wat oor die jare opgebou is, reeds in plek was. Ilse het vir Carin Brink, streeksbestuurder van Arbeidsbediening Kaapstreek goed leer ken, en so is Jaco Leeuwner van IMPAK, een van Arbeidsbedieninge se aksies in die Metropool, eerste ingespan om, toe daar ‘n kapasiteitsprobleem ten opsigte van GROW ontstaan, te kom help handgee.

Intussen moes Jaco weer by ander projekte betrokke raak en is Collins Bomali betrek by hierdie werksrehabiliteringsprogram.

Dié program behels dat Collins soggens saam met die skoonmaakspanne buite in die starte moet gaan werk in vier uur-skofte en in die proses voortdurend op die uitkyk moet wees vir lewenslesse wat hy aan die groep werkers moet uitwys – jy moet kreatief op jou voete kan dink. As daar byvoorbeeld ‘n vuilgoeddrom omgeval het met vullis wat uitgeval het (en eintlik die werk van die munisipaliteit is om op te ruim), dan gaan maak jy skoon. Hy leer hulle dus voortdurend die waardes van om ‘n verskil te maak daar waar jy werk.

Die GROW-program is is ‘n ‘skool van die lewe’. Dit leer vir ons hoe om verantwoordelike burgers te wees, en Collins help wys dit uit. Sake soos konflikhantering, hoe hanteer ek moeilike situasies sodat God verheerlik word, ens.

Buiten hierdie lesse vir die lewe, help Collins ook om spanleiers en supervisors te identifiseer vir opleiding. Hy help ook met die administrasie van die program en die toepassing van Q-book, ‘n program wat verseker dat regverdig hanteer en vergoed word.

In hierdie werk beleef Collins iets prakties van om te getuig deur hoop te gee; Christus het reeds die grootste deel gedoen – ons moet nou net die toepassing van Jesus se genade wees. Hoe pas ons geestelike waardes toe? Hoe leer ons om aan te hou? Hoe ‘translate’ jy God se verbond met ons met iemand op straat?

MES wys aan die werknemers hoe die ‘anders loop’ lyk, en Collins loop dit saam met hulle – straat vir straat en sypaadjie vir sypaadjie.

Kontak Carin Brink by cbrink@kaapkerk.co.za vir meer inligting