Finansiële Geletterdheid vat vlam in Tuinroete!

Foto: Geestelike leiers van die VGK Touwsranten ontvang hul Finansiële Geletterdheidsertifikate

Arbeidsbediening Tuinroete het aan die begin van die jaar ‘n vennootskap met Africa Skills College in George gevestig met die doel om hulle Finansiële Geletterdheidsprogram – Debt Savvy – te kan aanbied.  Dit is ‘n SAQA geakkrediteeerde program en Africa Skills het Floors Meyer, IMSA (Industrial Ministry SA) -opleidingskoördineerder van Arbeidsbediening Tuinroete, as fasiliteerder daarvan opgelei.

As gevolg van die COVID-pandemie kon hulle eers in fase 1 van die grendeltyd in Oktober hul eerste werkswinkel as ‘n proeflopie aanbied. Dertien geestelike leiers van die VGK Gemeente te Touwsranten naby George het vir die eerste werkswinkel ingeskryf.

Die leer-uitkomste van die program is:

  1. Neem verantwoordelikheid vir jou persoonlike finansies –  inkomste en uitgawe.
  2. Kundigheid en vaardigheid om ‘n persoonlike begroting op te stel en te bestuur.
  3. Kennis hoe om ‘n persoonlike bankrekening oop te maak ten einde te spaar en fondse veilig te hou.

In die lig van die impak wat COVID-19 op die ekonomie in die algemeen het en die gevolge daarvan vir mense se eie finansiële oorlewing in die besonder, was dit ‘n sinvolle oefening vir die deelnemers aan die werkswinkel.

Floors vertel: “Ons beplan om in die eerste kwartaal volgende jaar die werkswinkel vir ‘n groep middelvlakbestuurders in die markplek aan te bied. Ons het verlede Sondag tydens die erediens van die gemeente die deelnemers se bywoningsertifikate oorhandig.  Hulle kon ongelukkig nie almal daar wees nie. Die terugvoer wat hulle oor die leerervaring gee,  is baie positief.”

Kontak Floors Meyer by floors@mweb.co.za  vir meer inligting.