Afgetrede mielieboer neem opkomende boer onder sy vlerk

FOTO: Jasper van Zyl en Booi Manewil

Floors Meyer, IMSA opleidingskoördineerder van Arbeidsbediening Tuinroete, stuur die volgende inspirerende storie:

“Jasper van Zyl was ‘n mielieboer in die Wes-Transvaal wat ses jaar gelede afgetree het. Hy en sy vrou Linda, het na Klein Brakrivier naby Mosselbaai verhuis en synde ‘n boer in murg en been, het Jasper kort daarna ‘n stukkie grond in Outeniqualand naby Glentana bekom.

“Aanvanklik was dit net met die doel om homself besig te hou, maar vier jaar gelede het sy pad egter met ‘n opkomende boer in die omgewing, Booi Manewil, en sy vrou, Mercia, gekruis.  Jasper het toe besluit om die Manewils onder sy vlerk te neem.

“Hy het ‘n stuk van sy grond beskikbaar gestel en die Manewils begin mentor om met groente daarop te boer.  Die mentorskapprogram is omvangryk en bevat inligting ten opsigte van die verbouing van wortels, aartappels, patats, tamaties, pampoene, boontjies, sitrus, avokado’s, kiwi’s, ens.

“Sedertdien boer die Manewils suksesvol met groente en maak ‘n goeie bestaan, terwyl Jasper met die bemarking van die groente help.

“Jasper het intussen ook by Arbeidsbediening Mosselbaai betrokke geraak en sy akkreditasie as diensweker verwerf. Dis regtig merkwaardig – jy moet dit sien om te glo …,” vertel Floors.

Jasper getuig: “Die Here het my hier geplaas om ‘n verskil in mense se lewens te maak.”

Kontak Floors Meyer by floors@mweb.co.za vir meer inligting.