VGK Vredendal BrightStar tydens skoolvakansie!

Arbeidsbediening se bekende lewensvaardigheidsprogram, BrightStar, is verlede week vanaf 25 Oktober tot 1 November 2020 aan twee groepe finalejaar-katkisante van die VGK Vredendal aangebied. In totaal was dit 55 jongmense asook vier kategete wat dié insiggewende toerustingsprogram voltooi het. Ds Jannie Booysen het dit aangebied en Lene November het hom bygestaan.

Sandra en Jaco Leeuwner van Arbeidsbediening Weskus en Namakwaland het ook die kursus bygewoon. Jaco sal in Januarie 2021 as fasiliteerder van die program opgelei word. Sodoende kan hy dan die Namakwaland- en Weskus-gebiede ook verder met die program toerus.

Sandra vertel: “Tydens die Brightstar-kursus het ds Jannie gefokus op drie temas: Skitterende Self, Skitterende Verhoudings en Skitterende Leierskap. Ek bewonder die klomp jongmense wat die kursus bygewoon het en dit nogal tydens hulle skoolvakansie. Ek is opgewonde oor die kragtige toerusting wat hulle reeds in hierdie jong fase van hul lewens kon ontvang. Daar is soveel wat daardeur vermag kan word; hulle is instrumente in God se hand. Mag hulle in Jesus se voetspore volg.”

Op Sondag 1 November het ds Jannie die preek waargeneem en het die katkisante wat die BrightStar-program voltooi het hul sertifikate tydens die diens ontvang. Sandra Leeuwner, wat ook die diens bygewoon het, laat weet: “Hierdie wonderlike diens het my opnuut laat hunker na eenwording tussen die VGK en NG Kerk. Ek salueer die twee gemeentes, Touwsrivier en Bredasdorp waar dit reeds gebeur het.

“Vandag voel ek so tuis hier in die VGK Vredendal. Ek drink die sang in: ‘As U my hand nie vashou, sal ek dit nooit nie maak nie …’ Soos iemand wat in die dorre woestyn skielik afkom op ‘n waterryke oase! My siel kry kos. Mede-kollega, ds Jannie Booysen, preek uit Mattheus 8:5-13 met die tema ‘Aktiewe geloof oorkom alle hindernisse.’ Ek word herinner aan my persoonlike hindernisse die afgelope paar jaar. Sy stem pluk aan my hartsnare.  ‘…maak jou geloof ‘n verskil in die lewe?’ Mis ek dalk God se kragdadige wonderwerke in die klein dingetjies van die alledaagse omdat my geloof moontlik getaan het? Hoe kan ek meer aktief wees in my geloof om die hindernisse te oorkom?”

Ds October van die VGK Vredendal, laat weet dat sy katkisante die BrightStar-kursus baie sinvol gevind het. Chanél Engelbrecht se reaksie daarop was: “Dit was WOW! Daar was meer koinonia en samewerking onder mekaar. Ons kon mekaar ook beter leer ken. Die leierskapmodule het my laat besef dat ek ‘n leier is; ek deins soms terug van my verantwoordelikheid hiervan. Die laaste dag was uiters interessant gewees, want ons is mos LEMON-stukkies. Die kursus was sommer baie lekker gewees.”

Een van die ander katkisante, Bladen Dirkse, laat weet: “Vir my was dit ‘n wonderlike en lewensveranderende ervaring gewees omdat ek myself beter leer ken het en in ‘n nuwe lig kon sien – dat ek tot alles in staat is. Ek kon nuwe dinge leer en ook deur andere het ek geleer om in myself te glo. Ek het baie meer van my mede-kursusgangers geleer. Dit het my Skitterrende Self na vore gebring.”

Robyn Cloete, nog een van die katkisante wat die BrightStar-kursus voltooi het, sê: “Ek sal dit as an eye opening experience beskryf. Dit was regtig bemoedigend en leersaam. Dit het ons gelei en help voorberei vir die lewe en die moontlikhede daarvan; dit het ons bemoedig om na ‘n sinvolle en suksesvolle lewe te streef. Ek het ook ‘n paar nuwe sleutelwoorde geleer soos die betekenis van uitnemendheid. Die program het my ook geleer om getrou te bly aan myself en my waardes.”

Curwin Koopman se geskrewe getuienis plaas ons net so hier in sy eie handskrif:

Kontak die bestuurder van Arbeidsbediening Kaapstreek, Carin Brink, by cbrink@kaapkerk.co.za vir meer inligting.