Oudtshoorn skud weer vere reg

“Arbeidsbediening het ook, soos baie van die ander instansies hier, die afgelope jaar baie swaar gekry as gevolg van die COVID-19-pandemie,” vertel André van Staden, geestelike werker van Arbeidsbediening in Oudsthoorn vir die afgelope dertien jaar.

Die meeste van hul geestelike werkers is ook ouer, afgetrede mense van wie drie die afgelope jaar oorlede is – ‘n gevoelige verlies vir Arbeidsbediening. “Ons wil ere bring aan die volgende persone wat ons ontval het,” sê André. “Zani van der Walt (wat as gevolg van COVID-19 oorlede is), Tabby Kettles en Estelle Potgieter (voorheen van George). Ons betuig ons innige meegevoel aan hul naasbestaandes en sal hul getrouheid nooit vergeet nie.”

Die goeie nuus is dat Arbeidsbediening se geestelike werkers weer almal vanaf hierdie maand hul besoekpunte begin bedien het; iets waarna almal baie uitgesien het. Voor dit is baie van die besoekpunte met briefies en via telefoonoproepe bedien. André self het kort boodskappies gaan gee op van die plekke; sommige besighede is nog versigtig vir toelating en ‘n paar ondernemings moes selfs hul deure sluit weens die pandemie.

Drie van die geestelike werkers het egter deur die hele pandemie steeds voortgegaan met hul bediening, naamlik oom Klaas Vlok, Patrick de la Machus en André (alhoewel hy nie so dikwels soos altyd by die plekke uitgekom het nie, ter wille van veiligheidsmaatreëls).

“Gelukkig gaan die plaasbediening by Volmoed nog voort asook die uitreiking by De Hoop,” vertel André.

“Ons handhaaf steeds goeie verhoudinge met die gemeentes van die verskillende denominasies en besighede hier in Oudtshoorn,” vertel André. “Arbeidsbediening is baie bekend hier, aangesien dit alreeds sedert die 1990’s hier bestaan.”

Mag die Here julle kosbare bediening op Oudtshoorn bly seën.

Kontak André van Staden by 044 272 3414 of wes1@telkomsa.net vir meer inligting.