Me. Christine Quickfall, bestuurder van Badisa (middel agter), by die matrieks wat vanjaar Bybels van Arbeidsbediening ontvang het. Hulle is van die Hoërskool Bellville: Este Venter (links voor), Helanie Malherbe (regs voor), Angélique Alers (regs agter) en van die Hoërskool Brackenfell: Musa Mkhatywa (links agter).
“Baie dankie vir jul skenking van ses Bybels vir die Matriek-leerders; dit gaan hul beslis die geestelike krag gee wat hul tydens die eindeksamen nodig het.” So skryf BADISA in hul bedankingsbrief aan Carin Brink, bestuurder van Arbeidsbediening Kaapstreek, nadat me Christine Quickfall, bestuurder van BADISA, die Bybels in ontvangs geneem en aan ses matrikulante van verskeie skole oorhandig het.
Badisa identifiseer elke jaar leerders aan wie hulle care-pakkies gee as gebaar dat iemand omgee. In 2019 was dit byvoorbeeld matrikulante in kinderhuise. In 2020 het die pandemie dié projek in die wiele gery, maar vanjaar kon Badisa/Diaconia weer ‘n paar matrikulante identifiseer en danksy finansiële donasies van personeellede kon daar aankope gedoen word vir hierdie care-pakkies.
Aangesien Badisa in 2019 Bybels van Arbeidsbediening ontvang het vir hierdie doel, het Badisa vanjaar weer vir Arbeidsbediening genader om Bybels te skenk. Dit is toe as deel van dié pakkies aan die geïdentifiseerde matrikulante geskenk.
Hierdeur word die boodskap oorgedra dat nie net Arbeidsbediening en Badisa omgee nie, maar ook dat die Here ook altyd daar vir hulle is.
Kontak Carin Brink by cbrink@kaapkerk.co.za vir meer inligting.