Die rooi motortjie van Oudtshoorn

As jy weer deur Oudtshoorn se strate ry, sal jy dalk afkom op ‘n parmantige rooi motortjie met die woorde, “ARBEIDSBEDIENING, Jesus in die werksplek, Jesus in the workplace” op die deure.

Dié motortjie, ‘n Nissan Sentra 1993-model, is in 2007 aan André van Staden, koördineerder van Arbeidsbediening Oudtshoorn se vele bedieningspunte, as deel van sy vergoedingspakket geskenk. Dié motortjie met meer as 258,000 km op sy klok, getuig van baie kilometers se evangelisasiewerk, bywoning van algemene jaarvergaderings, besoeke en vele meer.

Dié motortjie is al so ‘n bekende gesig in die dorp, dat mense dit oral herken en soms daarheen hardloop om vir André te groet, of net ‘n geselsie aan te knoop. Soms, as hy by ‘n winkelsentrum geparkeer het en uitkom, wag daar dikwels ‘n hulpbehoewende wat hom nodig het. Hy gaan ook nêrens sonder ekstra Christelike literatuur of Bybels nie – die rooi karretjie is so te sê André se kantoor-op-wiele! Tot die polisie herken en toet of waai vir hom as hulle hom in die dorp gewaar; die polisiestasie is ook een van Arbeidsbediening se besoekpunte.

Die rooi kleur van die motortjie is vir André ook simbolies van Christus se bloed – dat almal in Oudshoorn kan weet: Jesus is oral by jou – selfs daar in jou werksplek.

Kontak André by wes1@telkomsa.net vir meer inligting.