Foto: George Kuyler en die Bybelstudiegroep
George Kuyler van Skimmelkrans-boerdery in die George-distrik is al ‘n paar jaar besig om Bybelstudie vir sy werknemers te fasiliteer – iets wat hul plaasgemeenskap daar heeltemal begin verander het. Lees gerus ‘n vorige artikel daaroor hier.
Vroeër vanjaar vertel George hoe dit tans in die pandemietyd daar gaan: “Covid kry maklik die skuld vir baie dinge, maar ongelukkig het dit ons dissipelskapprogram ook ingeperk … Ons het reeds voor Covid besluit om die formele Dissipelskapprogram eers te staak, omdat sekere inligting nogal moeilik is om te verstaan en te verwerk (hou in gedagte dat ons met van ongeskooldes, tot mense wat matriek het, werk en dan is sommige net Xhosa magtig). Die plan was om die boeke: Genesis , Eksodus en dan die Johannes-evanglie onder die knie te kry. Ons glo hierdie sou ons baie kon help met die dissipelskapprogram, maar ons moes as gevolg van Covid hier by die helfte van Eksodus eers halt roep.
“Die goeie van Covid is dat die gewoonte van om te ‘ontvang’ skielik gestop het; dit het ‘n leegte laat ontstaan en ons het begin soek om dit te vul. Ons het via sms’e en WhatsApps met mekaar boodskappe begin deel en het sedert einde-2020 op die WhatsApp-groep met ‘n kursus begin wat handel oor die verskillende seisoene in ons kerk-jaar.
“‘n Weldoener, ds Ronell Bezuidenhout, laat ons toe om hierdie kursus van haar daagliks met mekaar te deel. Dit bevat kort en diep gesprekke oor Lydenstyd, Aswoensdag, Palmsondag, Paasfees, Heilige Sondag en ook oor Pinkster en Hemelvaart. Die reaksie van die groep was: ‘Whow, ons het dit nooit so verstaan nie!’
“Ons het weer begin met een maal ‘n week Bybelstudie. Tydens Lydenstyd het ons veral baie bewus geword van die belangrikheid van ‘n lewende verhouding met Jesus Christus. Ons is veral oortuig van die belangrikheid daarvan om God as drie-eenheid werklik te leer ken – hoe om sy stem te hoor aan die een kant en aan die ander kant hoe praat (bid) ek tot God.
“Vir die afgelope weke en die paar weke wat kom, soos die Heer wil, fokus ons dan op gebed en maak ons gebruik van Dick Eastman se boek, The hour that changes the world, en die jongste boek van ds Kobus van Zyl, My daagliks afspraak met die Here. Laasgenoemde is baie prakties en sinvol.
“Ja, in die proses het ons groepe se samestelling ook verander. Sommige kry ons net nie weer terug nie en is op ander dinge gefokus waaraan hulle geestelike behoefte het; sommige het net weggeraak.
“Ek is positief oor die proses. Dalk moet ‘n mens plaasbediening en Arbeidsbediening as ‘n basiese gereedmaak vir die groter werk beskou.”
George Kuyler
snr@kuyler.co.za