“Need a prayer for your business?” is een van die warm-om-die-hart-uitnodigings wat jou oog vang as jy in een van die strate in die Strand se industriële gebiede stap. En dis presies waar jy die Plaaslike Aksie van Helderberg-Kom se Arbeidsbedieningskantoor sal vind. Hierdie groep Arbeidsbedienaars ag veral die vestiging van etiese waardes baie hoog en dra dit ook so deur na almal in die plekke van werk waar hulle bedien, ongeag aan watter godsdiensgroep jy behoort. Hier word nie net ingetree vir ‘n besigheid en sy werksaamhede nie, maar werknemers en werkgewers word geestelik bemoedig en ondersteun, terwyl ‘n goeie verhouding gevestig word.
Nadat hierdie tak se voorsitter, Frans Cronjé, vroeër vanjaar skielik oorlede is en Jan van den Berg wat jarelank die geestelike werker daar was, afgetree het, moes die tak vinnig planne maak om hul wiele geolie te hou. Buks du Toit wat voorheen predikant was, is toe as voorsitter aangestel en At Kampman as die geestelike werker in die plek van Jan.
Op Dinsdag 31 Augustus was Carin Brink, bestuurder van Arbeidsbediening Kaapstreek, op besoek aan hierdie twee voorvatters wat die wa nou deur die drif moet help trek in hierdie pandemiese tye. Carin het begin deur aan hulle ‘n breë oorsig van die werksaamhede van Arbeidsbediening te gee en te verduidelike waar dit in ons kerke se strukture inpas. Sy het ook verduidelik dat daar al hoe meer beweeg word om ons verskillende diensgroepe se dienste geïntegreerd te lewer; dat ons taakspanne nader aan mekaar wil werk.
Carin het ook met hulle gesels oor verskillende bedieningsmodelle, veral in hierdie tyd wat COVID ‘n impak op ons almal se bedieninge gehad het en hoe ons almal anders en meer kreatief moes begin dink. Hulle hulpwerkers is meestal afgetredenes en fokus op die bring van ‘n geestelike boodskap in die werkplek. Die bedieningsmodel van die verskillende plaaslike aksies verskil noodwendig en word grootliks bepaal deur elkeen se eie konteks. In sommige dorpe word daar onder andere ook opleidings- en toerustingsprojekte geloods, dissipelskapskurusse en selfs werkskeppingsprojekte aangebied. Die bedienaars van die plaaslike Helderbergtak is in hierdie tyd taamlik gekniehalter, aangesien hulle nie so vrylik tussen werkplekke kon beweeg nie. Hulle was dus baie opgewonde nadat Carin aan hulle die nuwe IMSA-app (www.imsa.partners) bekendgestel het.
Hierdie app bied ‘n uitstekende geleentheid om steeds voort te gaan met werkplekbediening waar fisiese besoeke nie moontlik is nie; ‘n vindingryke aanbod aan ondernemings om nog steeds op hierdie manier hul personeel geestelik te kan help bedien met dié app-boodskappe. Personeellede kan selfs die boodskappe na werk op hul eie tyd gaan luister; boonop gebruik die app ook baie minder data as ander mediakanale.
‘n Ander belangrike saak wat as hoë prioriteit beskou word, is die akkreditasie van vrywilligers wat verlede jaar weens COVID uitgestel moes word en so gou moontlik sal plaasvind.
Kontak Carin Brink by cbrink@kaapkerk.co.za vir meer inligting.