V.l.n.r.: Natale Roelofse (sameroeper/voorsitter), Gassie Carstens (mentor), Kobus van den Bergh (koördineerder)
“Op 3 Augustus vanjaar is daar ‘n inligtingsessie vir die bedienaars van Arbeidsbediening in Worcester gehou. Tydens hierdie geleentheid is daar relevante sake met almal gedeel deur die Plaaslike Aksiekomitee, bestaande uit Natale Roelofse, Gassie Carstens en myself,” vertel Kobus van den Bergh, koördineerder van Arbeidsbediening in Worcester.
“Daar is inligting deurgegee oor Arbeidsbediening, gedragskodes, prosedures en ook opwindende idees met mekaar gedeel. Die hoogtepunt was die toekenning van sertifikate (sommer ons eie), onder andere aan Gassie Carstens vir jarelange dienste en aan ‘n nuwe bedienaar, WP Viljoen vir sy heel eerste boodskap wat hy aan ‘n besigheid gebring het.”
Die goeie nuus is dat Arbeidsbediening Worcester in Augustus ‘n totaal van 1,230 mense bereik het in die 36 besighede wat besoek is. Die Arbeidsbedienaars het ook intussen met 6 persone gegroei tot 17 – iets waarvoor ons die Here loof!
Kobus vertel verder: “Ons het tydens besoeke aan Breedevallei Bottellering en Pionier Drukkery die aangename ervaring van lofsang beleef. Ons bestuur het gevoel ons moet so ‘n klompie lekkersing-liedjies saamstel vir besighede wat dit moontlik wil gebruik. Ons het toe gebruik gemaak van Bottellering en Pionier se sangbundels, die Hallelujaboek, ou koortjies, die Liedboek, die Psalm- en Gesangeboek en die internet. Dit is na drie persone gestuur vir hul raad en aanbevelings waarna daar uiteindelik 36 liedjies saamgestel is. Nader aan die Kersfeesseisoen sal ons toepaslike liedere daarvoor ook saamstel.
“Die samestelling is op net vier bladsye gemaak, sodat persone of besighede afskrifte daarvan (rug aan rug) kan maak. Sodoende is daar dan net twee A4-papiere wat gebruik word wat in ‘n plastieksakkie gesit kan word om herhaaldelik te kan gebruik. Alhoewel die tydgleuf wat aan Arbeidsbediening toegestaan kan word maar min is, kan daar dan so twee of drie liedere tydens ons bedieningstye gesing word.”
Kontak Kobus van den Bergh by arbeid8@gmail.com vir meer inligting.






