Floors Meyer in aksie
“Die werkswinkel was awesome! Klein dingetjies het saamgekom om ‘n groot les te vorm: ons werk vir F S & HG (Father, Son & Holy Ghost.)! Hý is ons alles, ons verteenwoordig Hóm. Ek gaan stepup and stepin ...” So getuig Izolde, een van die twaalf persone wat op Saterdag 27 Augustus die opleidingswerkswinkel van Floors Meyer, opleidingskoördineerder van Arbeidsbediening, op Mosselbaai bygewoon het.
Floors, wat al jarelank by Arbeidsbediening op George betrokke is, het weer eens ‘n baie suksesvolle opleidingswerkswinkel vir nuwe dienswerkers van Arbeidsbediening aangebied. Tien persone van die Mosselbaai-aksie en twee persone van die Oudtshoorn-aksie het die werkswinkel bygewoon.
Floors vertel: “Arbeidsbediening se werksaamhede het drie fokusareas, naamlik evangelisasie in die markplek, die toerusting van werkgewers en werknemers om geloofsgetrou in die markplek te lewe, en laastens die opleiding van dienswerkers om met kennis en vaardigheid die markplek te kan bedien.”
Die inhoud van die werkswinkel fokus veral op vier fasette. Floors verduidelik: “Tydens die induksiegedeelte van die program maak nuwe dienswerkers kennis met die merkwaardige verhaal van Arbeidsbediening wat oor meer as ‘n honderd jaar strek. Die simboliek van ons logo word onder andere verduidelik; die teologiese onderbou van Arbeidsbediening word bespreek en die teorie en praktyk van die bediening, te midde van al die uitdagings wat die moderne markplek bied, word toegelig.
“Die tweede faset van die werkswinkel fokus op die gedragskode en bedieningsriglyne vir dienswerkers van Arbeidsbediening. Daar word aandag gegee aan belangrike sake, soos etiket en protokol, die oordra van die evangelie in die werkplek, asook die lewering van pastorale ondersteuning aan werkgewers en werknemers in die markplek. Daar word ook van ons dienswerkers verwag om die gedragskode en bedieningsriglyne tydens die werkswinkel te onderteken.
“Tydens die derde faset van die werkswinkel konsentreer ons op die Lukas 10 Transformasieproses as ‘n Bybelse model vir evangelisasie. Die inhoud van die proses word opgesom met die vier woorde: Bid vir jou plek wat jy besoek en die mense waarmee jy daar in aanraking kom (Luk 10: 5). Bevriend die werkgewers en werknemers deur goeie verhoudings met hulle te bou (Luk 10: 7). Bedien die markplek met die liefde van die Here Jesus (Luk 10: 9). Bely die Naam van die nuwe Koning deur die verhaal van jou eie geloofsreis met mense te deel (Luk10: 11).
“Die vierdie faset van die opleiding behels die toekenning van ‘n sertifikaat en die oorhandiging van ‘n ID-kaartjie wat die dienswerkers se toegang tot die besoekpunte behoort te vergemaklik.”
Floors se aanbieding het ‘n groot impak op die mense wat dit bywoon, gemaak. Marius skryf: “Soos die ABC in die mediese wêreld – Airway, Breath, Circulation, so is die vier B’s van die Lukas 10 Transformasie: Bid, Bevriend, Bedien, Bely – dit red lewens!”
Pastoor Benson Matembo het ook die opleiding bygewoon. Hy is oorspronklik van Zambië en besig om ‘n gemeente in Kwanonqaba op die been te bring. Dit is ‘n besondere aanwins vir Arbeidsbediening in Mosselbaai, omdat hy die taal van sommige van die migrante magtig is.
Mag die Here hierdie opleiding van Floors en al twaalf die nuwe dienswerkers in alle opsigte seën.
Kontak
Carin Brink (Arbeidsbediening Kaapstreekbestuurder) by cbrink@kaapkerk.co.za vir meer inligting.






