V.l.n.r.: Christiaan Alberts, Christine Quickfall, Kai Smith en Nadia Alers
Onthou jy nog hoe knop-op-die-maag jy vir jou Graad 12-eksamen voorberei het en hoe onseker jy oor jou toekoms gevoel het? Elke mens wat jou sterkte toegewens en vir jou gebid het, was van groot waarde in daardie tyd van jou lewe.
Vanjaar het Badisa weer eens, met die ondersteuning van Arbeidsbediening, gesorg dat van ons Graad 12-leerders met omgee-pakkies kort voor hul laaste skooleksamen bederf is.
Ongelukkig kon nie al die graad 12-leerders teenwoordig wees nie, maar 28 kon omgee-pakkies ontvang – iets waaroor hulle baie dankbaar is.
Hierdie projek is geïnisieer deur Badisa se HUB, Christine Quickfall wat as jong skooldogter op kosskool was en weet hoe dit voel om huis toe te verlang en ver van die huis af vir jou eindeksamen te studeer.
Die projek is ‘n paar jaar gelede afgeskop deur Graad-12’s van die Badisa Kinder- en Jeugsorgsentrums te begin voorsien van omgee-pakkies. Dit is intussen uitgebrei om die Graad 12’s van die personeel by die Badisa Bestuursprogram ook in te sluit.
“Die sorgpakkies herinner ons daaraan dat ons as ‘n Badisa-familie aan ons Graad 12’s dink en vir hulle bid, maar ook om hierdie mylpaal in hul skoolloopbaan te vier,” vertel Christine. “Ons is trots op hoe ver hulle gekom het, hul vasbyt en deursettingsvermoë. En ons is dankbaar dat hulle nie deel van die skoolverlatingstatistieke in ons land geword het nie.”
Christine verduidelik: “Elke item in die omgee-pakkie het ‘n spesiale betekenis om vir hulle te wys dat ons omgee en om hulle te help met hul voorbereiding. Om te weet God is in beheer. Dit is goed as iets nie uitwerk soos jy dit wou hê nie. God het ‘n plan vir elkeen van ons. Ons hoop dat hierdie sorgpakkies hierdie 28 matrikulante aanmoedig en vertroos.
Daar is ook groot dank uitgespreek teenoor Arbeidsbediening wat 28 Bybels geskenk het vir die geestelike aanmoediging van hierdie leerders.
Tydens die eksamen sal Badisa ‘n kers brand vir elke matrikulant wat op die dag skryf om hulle in ons gebede te hou. ’n Vers vir al die 2022-matrikulante: “Moet dus nie vrees nie, want Ek is met julle; wees nie verskrik nie, want Ek is jou God. Ek sal jou versterk en jou help.” – Jesaja 41:10






