Sake-ontbyt in George versterk netwerk

Foto: V.l.n.r.: Eddie Orsmond, Floors Meyer, Victor le Roux (voorsitter) en George Kuyler

Danksy die opheffing van die inperkingsmaatreëls weens die pandemie kon Arbeidsbediening Tuinroete weer vanjaar die geleentheid kry om hul jaarlikse Netwerk Ontbyt vir Sakelui in George aan te bied.

Dit het plaasgevind op Donderdag 13 Oktober te Victoria Heights, George. Dié besondere geleentheid is deur 48 persone uit verskillende sektore van die sakewêreld bygewoon.  “Ons is veral dankbaar dat twee van ons middelvlak-bestuurders uit die landbousektor vir die eerste keer die sake-ontbyt bygewoon het,” vertel ds Floor Meyer, opleidingskoördineerder van Arbeidsbediening Kaapstreek en ook pastorale bedienaar van Arbeidsbediening in George.

Dr Eddie Orsmond, voorsitter van die bestuurskomitee van Arbeidsbediening Kaapstreek was die gasspreker tydens die sake-ontbyt. Die tema van sy boodskap was Geloof en geestelikheid in die markplek. Hy vertel: “Dit was vir my ’n inspirerende ervaring om die gasspreker te wees. Behalwe vir die goeie organisasie en keurige voorbereiding van die lokaal by Victoria Heights, was ek veral getref deur die ongeveer vyftig belangstellendes wat die ontbyt bygewoon het. Te wyte aan die COVID-pandmie was dit die eerste geleentheid van dié aard in drie jaar; iets waaroor ons baie dankbaar is. Die entoesiasme en belangstelling het my oortuig dat hier in die Tuinroete toegewyde bedieninge plaasvind, asook langtermynverhoudinge gebou word.

“Die individuele gesprekke wat ek met gaste kon voer, het my verseker van die diepe erns en toewyding by sakemense om die boodskap van Jesus Christus geloofsgetrou en eg te laat grondvat in die markplek. Ek was beïndruk deur die netjiese verslag wat as deel van die vergadering gedien het, asook die tydbesparende wyse waarop die inhoud hanteer is. Een van die uitstaande indrukke wat my bybly, is die teenwoordigheid van ’n groot groep jonger mense, selfs onder 30 jaar, wat bevestig dat hier relevansie en lewenskragtigheid ter sprake is.

“Dit is vir Arbeidsbediening in die Tuinroete belangrik dat beide werkgewers en werknemers geloofsgetrou in die werksplek teenwoordig moet wees. Ek dink dit is die regte fokus en korrekte beklemtoning. Mag die werk van Arbeidsbediening oral daartoe bydra dat God se koninkryk in die markplekke van ons streek sigbaar word.”

 

Dié sake-ontbyt het vir Arbeidsbediening George opnuut die geleentheid gebied om aan die hand van Arbeidsbediening se visie en missie hul kernfokus weer onder die aandag van die dorp se sakelui te bring. Floors verduidelik: “Eerstens fokus Arbeidsbediening op evangelisasie. Dit beteken dat ons die Koninkryk van God in die wêreld van werk verkondig. Na raming is 60% van George se werksmag – werkgewers en werknemers – nie aan ‘n formele kerk verbind nie.  Vir ‘n beduidende hoeveelheid van dié mense is Arbeidsbediening die enigste kerk wat hulle ken.

“Tweedens is toerusting van groot belang. Ons missie is om in samewerking met ander vennote en kerke ‘n Bybelse waardestelsel in die markplek te vestig wat getuig van geregtigheid, billikheid, eerlikheid, betroubaarheid, ensovoorts.  Daarom wil ons werkgewers en werknemers ondersteun om geloofsgetrou in die markplek hul werk uit te leef.

“Derdens fokus ons op opleiding. Omdat ons terdeë daarvan bewus is dat ons aan ‘n baie professionele markplek ‘n diens lewer, streef ons daarna om die bestaande dienswerkers wat deur ons uitgestuur word deurlopend op te lei en nuwe dienswerkers behoorlik te akkrediteer.”

Kontak Carin Brink by cbrink@kaapkerk.co.za vir meer inligting.