Jaco Leeuwner, wat jarelange ondervinding in die verskeie velde van Arbeidsbediening het en ook die koördineerder van Biblia Kaapstreek is, is vanaf 1 Mei 2023 aangestel in die pos wat vakant geraak het in Oktober 2022 toe Carin Brink as bestuurder van Arbeidsbediening Kaapstreek bedank het.
Die voorsitter van Arbeidsbediening, Eddie Orsmond, verduidelik: “Jaco is aangestel in die pos met ’n nuwe benaming wat die uitkoms is van ’n proses van beoordeling en ontleding met die oog op die rigting wat Arbeidsbediening Kaapstreek in die volgende aantal jare moet inslaan. Die proses was in konsultasie met menslike hulpbron-konsultante wat ons gehelp het met ’n objektiewe proses en vergelykende beoordeling met soortgelyke poste en funksies in die markplek. In die lig daarvan is die fokus van die pos vir die toekoms beskryf en op die nuwe benaming besluit vir Arbeidsbediening Kaapstreek: Netwerk- en Verhoudingsbestuurder.
“Ons verwelkom Jaco in hierdie pos met die nuwe baadjie en sien baie daarna uit om saam te droom, te dink, te beplan en te implementeer. Die lede van die uitvoerende komitee is reeds bewus van die aanstelling en sal binnekort saam met Jaco begin met die ontwerp van ’n proses om oor die volgende twee jaar of selfs langer, visionerend en strategies aan die uitdagings vir en werksaamhede van Arbeidsbediening in ons verskillende kontekste aandag te gee. Ons voorsien om almal in die Arbeidsbediening-familie saam op hierdie pad te neem en hoop almal sal die reis met entoesiasme onderneem.
“Intussen sal Jaco met die Plaaslike Aksie-komitees (PAKs) in sy nuwe hoedanigheid kommunikeer en glo ek dat ons gou weer spoed sal optel. Dankie vir almal se meelewing en samewerking in hierdie verband. Ons glo die Here is besig om Arbeidsbediening op ’n heerlike reis te neem om God se koninkryk in die markplek uit te brei en te laat kom. Jaco sal die persoon wees wat die koördinering en fasilitering van die breë netwerk en omvattende verhoudinge waaruit Arbeidsbediening Kaapstreek bestaan, vanuit die fasiliteringskantoor bymekaar te hou.”
Baie welkom, Jaco en ’n hartlike uitnodiging aan almal in die span om met Jaco kontak te maak as daar behoeftes is wat aandag vra.






