George span Think Tank in om nuut te dink

“Dit is die beste ding wat nog met my gebeur het!” en “Kolskoot!” is maar van die enkele getuienisse van mense wat onlangs die Think Tank-werkswinkel op George bygewoon het.

Gedurende Maart tot April vanjaar het Arbeidsbediening Tuinroete op George vyf opeenvolgende Think Tank-sessies vir hul bestuurspan aangebied. Dit is deur agt persone bygewoon en deur ds Floors Meyer gefasiliteer.

“Die doel van die werkswinkel was om vir ons bestuurspan die geleentheid te bied om die kundigheid en vaardigheid te kon bekom wat hulle in staat sou stel om die outentiekheid van ons bediening te evalueer, die relevansie daarvan vir die moderne markplek te analiseer en bemarkingsgeleenthede vir ons bediening te identifiseer,” verduidelik Floors.

As mens vir Floors vra wat die inhoud van die Think Tank-program alles behels, antwoord hy: “Dit bestaan uit vier modules. Module 1 handel oor ons roeping en evaluering van die drie fasette van ons bediening, naamlik wat ons visie is, wie ons vennote is en hoe ons kliënte is, met ander woorde hoe ons hulle algemeenste karaktertrekke sal beskryf.

“Module 2 handel na aanleiding van Mattheus 28:18 oor die vraag, Wie is ons Opdraggewer? Dit fokus dus op die rol wat die gemeente daarin speel en die plek wat die ekumeniese kerk behoort in te neem,” verduidelik Floors.

“Module 3 gee toeligting oor die projek-indeks wat Nehemia tydens die herbou van die mure van Jerusalem opgestel het, asook oor die implementeringsproses wat hy gevolg het. ‘n Projek-indeks is die logiese opeenvolgende stappe wat geneem moet word ten einde die sukses van ‘n projek te verseker.

“Module 4 begelei die deelnemers aan die werkswinkel om stap vir stap hul eie bedieningstrategie te ontwikkel en op ‘n Ministry Deployment Canvas grafies voor te stel.  Die doel van die canvas is om die bestuur van die bediening te vergemaklik en met een oogopslag vir ons kliënte die bediening te verduidelik.”

Die Think Tank-program is só ontwikkel dat die fasiliteerder nie ‘n lesing hoef te lewer nie, maar aan die hand van rigtinggewende vrae die deelnemers kan begelei om self die kernpunte van die verskillende modules te ontdek en sodoende die inhoud in hulle eie denke te integreer.

Die Think Tank-werkswinkel is ‘n groot bate omdat dit vir persone of organisasies in ‘n beter posisie stel om hul bediening te herevalueer en te  herontwerp na die eise van die post-pandemie-era waarmee ons almal nou gekonfronteer word.

Kontak ds Floors Meyer by floors@mweb.co.za vir meer inligting.