André van Staden by drie munisipaliteitswerkers, naamlik (v.l.n.r.) Sannie September, Marinda Everts en Mhlebe Umfunu wat deur Oudtshoorn se Straatbediening bereik word.
“Dit is vir my ‘n groot en opwindende avontuur!” sê André van Staden, geestelike werker van Arbeidsbediening Oudtshoorn. “Ons bedien ongeveer 80 besoekpunte per maand en kry elke maand nog nuwe besoekpunte by. Een daarvan is ons straatbediening wat in November verlede jaar met erns begin het.”
Arbeidsbediening Oudtshoorn het nou ook ‘n Suid-Afrikaanse Polisielid (SAP) as deel van hul span van 13 vrywilligers. Haar naam is Beula Diedericks en sy doen haar eie uitreike op straat. “Ek sien sommer hier is groot dinge wat gaan gebeur!” sê André.
“Met ons straatbediening fokus ons op al die mense wat vir die plaaslike regering (munisipaliteit) werk en besoek hulle verkieslik vroeg soggens of na vyf in die middae. Alhoewel hulle almal baie positief op ons bediening reageer, is dit moeilik om tans die impak daarvan op die werkers te bepaal.
“Die groot voordeel van ons straatbediening is dat niemand ooit regtig voorheen ons munisipale werkers bedank het vir die onontbeerlike werk wat hulle doen nie – en nou hoor hulle dit gereeld by ons as ons hulle geestelik bedien. Buiten hierdie waardering wat ons gereeld teenoor hulle uitspreek, voel hulle ook nou meer deel van die dorp se werksmag. Die munisipaliteitswerkers wat in verskillende sektore van die dorp werk, beloop in totaal ongeveer 500 mense.
“Alhoewel baie van hulle hul eie Bybels het, is daar steeds ‘n behoefte aan Bybels en geestelike literatuur. Elke keer as ons van hulle af wegry, is daar die oorweldigende besef dat hulle baie dankbaar is vir alles wat ons met hulle deel; dit maak ‘n mens eintlik skaam, want ons wil eintlik soveel meer doen,” sê André.
“Dis ‘n baie bevredigende bediening om soos Jesus tussen die mense te bedien en te hoor van die uitdagings in hul lewens en daarvoor te bid.”
Kontak André van Staden by wes1@telkomsa.net vir meer inligting.






