Verrykende Akkreditasie-opleiding te Worcester

Ds Floors Meyer besig met IMSA-akkreditasieopleiding te Worcester.

 

“IMSA (Arbeidsbediening) se akkreditasie-opleiding was baie leersaam, insiggewend en verrykend; die geleentheid vir interaksie was gepas.” So getuig een van die deelnemers aan ‘n onlangse IMSA-werkswinkel.

Op Saterdag 15 April is ‘n akkreditasiewerkswinkel vir die bestuurskomitee en geestelike werkers van Arbeidsbediening te Worcester aangebied. Ds Floors Meyer was die fasiliteerder van die program.

Tydens die werkswinkel is daar tien persone opgelei. Dit het bestaan uit bestuurskomiteelede en dienswerkers van die Plaaslike Aksiekomitee (PAK). Wat hierdie werkswinkel merkwaardig gemaak het, was dat daar ook twee gehoorgestremdes in die groep was. Daar is dus van ‘n gebaretaaltolk gebruik maak ten einde die inhoud van die werkswinkel vir hulle toeganklik te help maak.

“Die motivering vir die akkreditasiewerkswinkel was omdat daar tydens IMSA se Algemene Jaarvergadering in 2018 ‘n resolusie aanvaar is dat IMSA moeite sal doen om ons geestelike werkers op te lei en toe te rus vir hulle dienswerk in die markplek,” vertel Floors, “veral in die lig van die feit dat die regering beplan om maatreëls in te stel waarmee die werksaamhede van godsdienstige organisasies gekontroleer moet kan word.

“Ons gebruik die woord, akkreditasie, met die doel om geloofwaardigheid aan ons geestelike werkers toe te ken,” verduidelik Floors, “met ander woorde organisasies wat van ons IMSA-bediening gebruik maak, kan verseker wees van ‘n IMSA-geakkrediteerde dienswerker.”

Die IMSA-akkreditasieprogram bestaan uit vier fasette, naamlik:

  • ‘n Induksie-module wat die geskiedenis, struktuur en organisasie, teologie, filosofie en bedieningspraktyk van Arbeidsbediening toelig;
  • die bestudering van die Riglyne vir Geestelike Werkers en ondertekening daarvan as toewyding (commitment) aan die handelsmerk (brand);
  • die aanbieding van die Luke 10 Transformation (L10T)-program as ‘n praktiese werkbare model vir evangelisasie in die markplek;
  • die oorhandiging van ‘n Sertifikaat van Bywoning en ‘n ID-plaatjie wat hulle as geestelike werkers behoorlik identifiseer.

Volgens Floors baat hierdie akkreditasie-opleiding IMSA-dienswerkers as volg: “Die werkswinkel help die deelnemers om die nodige kundigheid en vaardigheid vir hul bediening in die moderne markplek te bekom. Boonop kan hulle met vrymoedigheid en selfvertroue instansies nader met hierdie IMSA-bedieningsaanbod, aangesien hulle deur ‘n opleidings- en goedkeuringsproses gegaan het.”

Nog ‘n deelnemer aan die akkreditasie-werkswinkel sê: “It was encouraging to sit under the lecturing of a man who has surrendered his life to the service of God …”

Konrak Floors Meyer by floors@mweb.co.za vir meer inligting.

Die groep wat in Worcester opgelei is.