Dienswerker, Joel Plaatjies, op besoek aan die nuwe Crazy Store-tak in die George Mall.
Covid-19 lê in die verlede, maar ons kan nog goed onthou hoe dit ons lewens ontwrig het – ook die ritme van ons bedieningspunte en hoe ons verlang het daarna om fisies by mekaar te kon uitkom en vir mekaar te kon bid. Daarmee het Zoom en WhatsApp ons baie gehelp.
Nadat die beperkings opgehef is, moes baie van ons weer ons programme soos ou gekraakte ratte aan die gang probeer kry. Floors Meyer van Arbeidsbediening George, vertel: “Gedurende die pandemie het veral van ons meer senior dienswerkers, as gevolg van die inperkingmaatreëls, hulle bediening aan besighede gestaak. Ongelukkig het ‘n klompie van hulle, om ‘n verskeidenheid van redes, nie weer hul bediening na afloop van die pandemie hervat nie; iets wat waarskynlik by van ons ander takke ook begeur het.
“Na afloop van die pandemie moes ons derhawe nuwe dienswerkers werf en vir die bediening oplei. Een van ons gereelde besoekpunte wat in die slag gebly het, was Crazy Store. ‘n Paar weke gelede het ons egter ‘n voëltjie hoor fluit dat die personeel by Crazy Store wonder wat van Arbeidsbediening geword het.
“Ek het dadelik soontoe gegaan, myself gaan voorstel en gevra om met die takbestuurder te praat. Sy was uit die veld geslaan deur my besoek so uit die bloute. ‘Meneer, waar was jy al die tyd?’ was haar eerste reaksie. ‘Ons het so ‘n groot behoefte aan die Woord wat julle bring; ons mense het dit nodig!’
“Ek kon toe reël dat een van ons senior dienswerkers die personeel van Crazy Store weer begin bedien,” vertel Floors.
****************************************
“Ons het so ‘n tyd gelede ‘n bietjie navorsing gedoen en ontdek dat nagenoeg 60% van George se werkersmag, werkgewers en werknemers, nie ‘n formele verbintenis met ‘n kerk het nie,” vertel Floors. “Vir ‘n beduidende hoeveelheid van daardie mense is Arbeidsbediening die enigste ‘kerk’ wat hulle ken.”
Die oes is groot, die arbeiders min; bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. Die Markplek is oop vir die evangelie en honger vir die Waarheid in Christus.
Kontak Floors Meyer by floors@gmail.com vir meer inligting.






