“Die Here is getrou …”

Johan Crous is al jare lank in diens van die NG Kerk Wellington-Noord en is ook die geestelike bedienaar van Arbeidsbediening in Wellington.

Hy vertel dat mense dikwels aan hom die volgende vra: “As ek deur ’n moeilike tyd gaan, gaan die Here daar vir my wees? Is die Here werklik getrou? Sal Hy my nie in die steek laat nie?”

Verlede maand was Johan se boodskap by een van die besighede op hul dorp wat hy bedien die ‘Vrug van vreugde’. Na die tyd het ’n besigheidseienaar na hom toe gekom en vertel hoe hy sy vreugde verloor het. Dit het die een oomblik nog goed met die besigheid gegaan en die volgende oomblik was daar nie werk nie. Die verantwoordelikheid van die besigheid en die omstandighede het sy vreugde gesteel.

Johan vertel: “Verlede week stuur ek vir hom ’n boodskap om Maandagoggend se boodskap te bevestig. Sy antwoord daarop was: ‘Daar is steeds geen werk nie, maar hopenlik sal ons Maandag hoor van werk.’

“Maandagoggend stuur ek vir hom ’n boodskap met Jesaja 41:10 Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas …

“Maandagmiddag stuur hy vir my ’n boodskap: ‘Ons het ’n baie suksesvolle vergadering met ’n kliënt gehad en ’n baie groot kontrak gekry. Die Here is getrou.’

“Mag hierdie getuienisstorie ons altyd laat onthou dat God ons nooit in die steek sal laat nie.”

Johan is ook betrokke by ander uitreikbedieninge, soos die bediening aan gevangenes en ‘n hulp vir die leraar in sy gemeente.

 

Kontak Johan Crous by crousjm@telkomsa.net vir meer inligting.