Oom Ben gee die stokkie aan.

“Ek kan nog baie goed onthou wanneer ek met Arbeidsbediening begin het,” sê oom Ben de Goede, een van die Paarl se vrywillige geestelike werkers wat al sedert 1995 getrou hierdie waardevolle werk doen. “Dit was die jaar toe die Springbokke die Wêreldbeker gewen het.”

Hubert Loubser, voorsitter van die Plaaslike Aksiekomitee in die Paarl, vertel: “Oom Ben se eerste biduur het hy gehou by Fabrinox. Dit is as ‘n ‘vreugdebiduur’ aangebied. Oom Ben het ook by verskeie ander maatskappye deur die jare bedien.”

Hubert wou by hom uitvind hoe hy Arbeidsbediening benader en wat hy in gedagte hou as hy ‘n biduur aanbied. Daarop het oom Ben as volg geantwoord: “Dit was altyd vir my belangrik dat ek self oortuig moes wees van die boodskap in my eie lewe voordat ek dit kon aanbied aan ander mense in die werksplek.

“Dit was ook vir my belangrik om die boodskap aktueel te hou ten opsigte van wat rondom ons gebeur. Ek het soms selfs my boodskap op pad na die biduur aangepas as ek iets belangriks op die radio gehoor het.

“Deur die jare raak ‘n mens geheg aan die mense by die verskillende maatskappye en hulle begin jou vertrou. Ek moes al ‘n paar keer gaan om berading aan mense te gee. Die pandemie het ‘n massiewe invloed op Arbeidsbediening gehad – juis in ‘n tyd toe die behoefte aan  bidure baie groot was – ek moes kreatiewe planne beraam om die mense te bly bedien in daardie moeilike tyd.”

Oom Ben was ook vir ‘n hele aantal jare voorsitter van Arbeidsbediening in die Paarl. Hy tree nou af en hy en sy vrou, Ria, sal dan na Durbanville verhuis. Oom Ben sê: “Dit is tyd om die Arbeidsbedieningstokkie aan te gee.”

Ons is baie dankbaar vir oom Ben se bediening in die Paarl en sal hom baie mis. Ons wens vir hom en Ria ‘n rustige aftrede toe.

Kontak Hubert Loubser by hubert.loubser@outlook.com vir meer inligting.