“Ek het die afgelope tyd weer diep onder die besef gekom van God se uitnemende liefde vir ons as mense.” So getuig Willie Smit van Arbeidsbediening in Ceres. “En die dat ons om watter rede ook al dit nie altyd deel met mekaar nie. Ons praat oor enige goed wat met ons gebeur en oor wat ons gesien het, maar ons praat nie meer (of baie min) oor Jesus in ons lewens en wat Hy in ons eie lewens gedoen het nie.”
Willie vertel: “Nou eendag stap ek in die dorp. Die strate is ontsettend besig, want dis die einde van die maand en boonop ook nog ‘n Saterdag. Ek hoor toe twee vroue wat besig is om te staan en gesels, maar aan die manier hoe hulle met mekaar praat en lag, kan ek sien dat hulle vreeslik opgewonde oor iets is. Ek stap nader en vra: ‘Hoekom is julle twee dan vanoggend so opgewonde? Het een van julle die Lotto gewen?’
“Nee Oom,” antwoord die een vrou, “ons het iets baie groters as dit gewen. Ek vertel nou net vir dié vrou, ek drink vanoggend uit die piering uit, en sy sê sy ook.”
Willie sê: ”Maar vandag se mense sê dit is baie onbeskof om uit ‘n piering te drink. My oupa was ‘n dokter, maar hy het sy lewe lank geweier om anders te drink as uit ‘n piering uit.
”Oom, ons kan nie anders nie, want ons bekers loop oor van God se genade en liefde – daarom drink ons uit pierings uit,” sê die ander vrou. Wat ‘n getuienis!
“As ek nie met dié twee vroue gepraat het nie, sou ek nie hul getuienis gehoor het nie,” sê Willie. “Die vraag is: hoeveel mense loop daarbuite rond met die mooiste getuienis, maar ons hoor dit nooit nie, omdat ons nie tyd maak om ‘n bietjie met ander mense te praat nie. Ons is so ingestel op onsself dat ons somtyds die lewe mis.
“Daarom het ek al ‘n paar jaar gelede besluit om baie meer uit te reik na die mense op straat; daar hoor jy die pragtigste stories van mense – hoe mense verander het deur mense se stories.”
Kontak Willie Smit by willemhsmit1942@gmail.com vir meer inligting.