Hoe bly ek beginselvas in my nuwe werksomstandighede?

Dat die eienaar self waarneem dat die Here met Josef is, wys daarop dat Josef beginselvas gebly het en nie ten alle koste sy slawe-eienaar se guns wou wen nie, maar getrou gebly het aan die Here wat hy aanbid.

 

Skrifgedeelte
Genesis 39:1-6a

 

Die verhaal van Josef wat deur sy broers aan die Ismaeliete verkoop en uiteindelik in Egipte beland het waar Potifar Josef as slaaf gekoop het, beskryf in Genesis 39 ’n situasie binne die konteks van die werksplek en arbeidsverhoudinge.

Potifar was ’n paleisamptenaar van die farao en die hoof van die lyfwag. Sy eie werksverpligtinge het hom klaarblyklik genoodsaak om hulp te kry met die huishoudelike versorging en bestuur. Daarom het hy vir Josef by die Ismaelitiese handelaars gekoop, as ’n slaaf wat vir hom diens moet doen in die huishouding.

Die manier waarop die outeur van Genesis hierdie verhaal vertel, gee beide perspektief op God se teenwoordigheid in Josef se lewe en situasie, asook ’n beskrywing van Josef se karakter. Die vertelling in Genesis 39 beklemtoon dat die Here met Josef was. Potifar dien as getuie hiervan. Volgens vers 3 het hy opgemerk dat die Here vir Josef laat slaag in alles wat hy doen. Daarmee word die bron van Josef se karakter beklemtoon, asook dat die Here in beheer is van sy omstandighede. Dit is klaarblyklik vir die skrywer van die verhaal belangrik om hierdie punt te beklemtoon.

Teen hierdie agtergrond ontwikkel die skrywer ook die Josef-karakter. Dit stimuleer die gedagtes om vanuit hedendaagse praktyke in die wêreld van arbeid en dienslewering, na te dink oor aspekte soos integriteit, betroubaarheid, toewyding en lojaliteit. Die besonder positiewe beoordeling van Josef se eienaar oor sy gedrag binne die konteks van die taak waarvoor Josef aangestel is, bevestig immers dat Josef se optrede en houding die guns van sy eienaar weggedra het. Dat die eienaar self waarneem dat die Here met Josef is, wys daarop dat Josef beginselvas gebly het en nie ten alle koste sy slawe-eienaar se guns wou wen nie, maar getrou gebly het aan die Here wat hy aanbid.

 

“Josef het inderdaad gegroei
daar waar hy nou geplant is.”

 

Josef se positiewe benadering en toegewyde diens aan sy eienaar trek ook die aandag. ’n Mens sou kon verwag het dat hy in sak en as sou wees omdat hy deur sy broers verkoop is en hy nou in die vreemde land as slaaf moes lewe. Die teendeel is egter waar. Die verteller wil sy lesers laat besef dat Josef die Here bly dien het binne hierdie nuwe en vreemde konteks, asook dat hy bereid was om onder die gesag van iemand te werk oor wie sommige van ons dalk wenkbroue sou wou lig. Josef het inderdaad gegroei daar waar hy nou geplant is. Die uitkoms van hierdie lewenshouding was dat sy eienaar hom daarvoor erken en met verantwoordelikheid toevertrou het.

In die lig van die Suid-Afrikaanse konteks waar korrupsie die ‘normaal’ van regeringsamptenare geword het, is die eerlikheid en betroubaarheid van Josef hier opvallend. Josef het Potifar se persoonlike bediende geword en hy is aangestel oor Potifar se huishouding. Sy Egiptiese eienaar het alles wat aan hom behoort het onder Josef se beheer geplaas. Dit sê natuurlik nie net iets oor Josef se karakter nie, maar ook iets van die bestuurstyl van Potifar. Maar watter groot bate is dit nie vir ’n werkgewer as hy/sy ’n amptenaar ten volle met alles kan vertrou nie.

’n Belangrike aspek van die verhaal wat hier vertel word, is dat die Here die huis van die Egiptenaar geseën het ter wille van Josef. Die seën van die Here het gerus op alles wat hy besit, in die huis en in die veld (vers 5). Vanuit ’n Christelike perspektief is hierdie tog ’n wesenlik belangrike kwessie. God se seën werk ook deur sy getroue en betroubare volgelinge. Dink aan God se belofte van seën vir Abraham sodat hy tot seën kan wees vir ander. Dink ook aan die Here se opdrag aan die ballinge in Jeremia 29 om die land van hul ballingskap tot seën te wees.

Miskien stimuleer hierdie paar opmerkings tog verdere gesprek om te gesels oor etiese gedrag in ons hedendaagse werksplekke en hoe ons die Here kan dien daar waar ons daagliks saam met ander werk en leef.