Jesus-volgelinge wat daagliks betrokke is in die wêreld van werk en diens in die gemeenskap, moet ernstig kennis neem van Jesus se riglyne vir dissipelskap. Wat vra dit van my om vandag ’n dissipel van Jesus te wees?
Skrifgedeelte
MATTEUS 10:40-42
In Matteus 9:35 tot 10:42 gee Jesus onderrig aan sy binnekring-volgelinge, die Twaalf. Hy rus hulle toe vir die bediening van die evangelie in hul leefwêreld van destyds. Jesus leer hulle hoe hulle die bediening moet aanpak, die omstandighede wat hulle kan verwag, die eise wat geloofsgetroue diens aan God stel, maar ook dat hulle sekuriteit daarin bestaan dat God by hulle teenwoordig is, te midde van moeilikhede wat hulle mag ervaar.
Jesus se onderrig en toerusting vir die bediening waarvoor Hy sy dissipels voorberei, is ook vir ons bediening in die werksplekke van ons omgewings van belang. Jesus-volgelinge wat daagliks betrokke is in die wêreld van werk en diens in die gemeenskap, moet ernstig kennis neem van Jesus se riglyne vir dissipelskap. Wat vra dit van my om vandag ’n dissipel van Jesus te wees?
Jesus se onderrig is ook toepaslik vir geestelike werkers van Arbeidsbediening wat na werksplekke uitreik vir evangelie-bediening. Geestelike werkers behoort Jesus se onderrig en toerusting vir hul eie geloofsvorming ter harte te neem. Hulle moet ook hierdie riglyne oordra as deel van hul bediening in die werksplekke en gemeenskappe waar hulle bedien.
“Jesus roep sy dissipels op tot
radikale toewyding aan Christus.”
In Matteus 10:40-42 praat Jesus met sy dissipels oor die eis (koste) van dissipelskap en erkenning (vergoeding) vir hulle diens. In die voorafgaande verse maak Jesus drie uitsprake wat soms as sy ‘harde woorde’ beskryf word. Hy praat oor konflik in die familie (vers 34-36), die prioriteit van Christus bo familie en jouself (vers 37-39), asook van die verlies en vind van jou lewe (vers 39). Jesus roep sy dissipels op tot radikale toewyding aan Christus.
Na sy ‘harde woorde’ deel Jesus drie uitsprake oor erkenning vir die dissipels se geloofsgetroue diens. Hier druk Jesus sy dissipels dit op die hart dat dit noodsaaklik is om Hom bo enige iets anders te stel. In die eerste geval stel Jesus dat deur die ontvangs van ’n dissipel Christus Self, en dus ook God, ontvang word (vers 40). Hy noem die geval van ’n profeet wat ontvang word as regverdige persoon (vers 41), asook om ’n beker water te gee aan ’n gewone dissipel (vers 42).
Hiermee roep Jesus ons op tot volle toewyding aan die opgestane Here en die voorbeeld wat Jesus met sy aardse bediening gestel het. Dit behels selflose diens aan ander en deernisvolle geregtigheid (barmhartigheid) ten alle koste, op grond van geloof in God. Dit maak ons bewus van ander se behoeftes eerder as ons eie behoeftes en belange.
Die uitdaging is nou om daagliks doelbewus met Jesus se onderrig, ook in die werksplek, teenwoordig te wees vir ander.