In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk
(Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)
Lees Esra 1:1-3:11
“Hier volg ’n opgawe van die mense uit die provinsie Juda wat uit die ballingskap teruggekeer het na Jerusalem en Juda toe, elkeen na sy eie stad toe. Hulle is na Babel … weggevoer deur koning Nebukadnesar … en … het teruggekom met Serunbbabel.”
Oordenking
Esra 1-3 vertel die verhaal van God se verbondsvolk, wat na vyftig jaar sonder ’n tempel in Jerusalem geleentheid kry om die tempel van die Here te herbou. In die jaar 586 vC is Jerusalem deur Nebukadnesar van Babel vernietig. Die Jode is as ballinge na Babel weggevoer. Dit was die einde van Juda, die Suidryk, asook van ’n bepaalde godsdienstige fase. Die tempel in Jerusalem is verwoes.
Koning Kores van Persië het 50 jaar later die Babiloniese ryk oorwin. As deel van sy erfenis, ontvang hy die ballinge wat Nebukadnesar destyds weggevoer het. Dié koning kondig toe ’n proklamasie af waarin hy toestemming gee dat alle ballinge na hulle eie lande kan terugkeer, om die godsdienstige plekke van hul gode te herbou. Onder hulle was ook die Jode. Vers 2 sê God neem toe vir Kores in diens. Hy sê dat God van Juda aan hom ’n bevel gegee het om vir Hom ’n tempel in Jerusalem te bou.
Hoofstuk 3 beskryf hoe die herstel van die Joodse godsdiens met die bou van ’n altaar vir God van Juda begin. ’n Altaar, sodat die Joodse godsdienstige feeste weer gevier kan word. Toe eers is die fondamente van die tempel gelê. Die hele volk het gejubel, die ouer mense het hardop begin huil. Jongmense was uitbundig oor ’n nuwe tempelgebou, die oumense het getreur oor die tempel van Salomo. In die vreugde en teleurstelling bou God weer ’n geloofsgemeenskap in Jerusalem op die ashope van die eens glansryke tempel van Salomo. Esra bevestig dat God sy gemeente van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou.
Met die verhaal van Juda wat na Jerusalem terugkeer, sê God dat Hy die geskiedenis van mense beheer en selfs heidense konings in diens neem. Dié perspektief moet ons nooit vergeet nie. God is op weg met sy kinders. Hy kan enige persoon in diens neem. Die verhaal vertel ook van die wortels van die Christelike godsdiens en gebruike. Dit het worstels in die heropbou van die Joodse godsdiens, in die tyd van Esra.
Ons moet die goeie werk wat God deur die voorgeslagte begin het, verder uitbou. Die uitdaging vir ons geslag is om helderheid oor ons taak te kry. Hoe moet ons God vandag dien? Paulus sê aan die Efesiërs (2:20): “Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fundament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self, die hoeksteen is.” 1 Petrus (2:5) sê vir gelowiges in Klein Asië: “Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, sodat julle lewe en gedrag ’n heilige priesterdom kan wees, en julle geestelike offers kan bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.”
Ons geslag gelowiges in Suid-Afrika word geroep om ’n nuwe tempel vir die Here te bou, een waarvan die stene lewende mense is, ek en jy, wat die evangelie moet dra in elke werksomstandigheid vandag.