SAGARIA 9:9-12
Sagaria 9:9-12 is deel van Juda se lewensontwrigtende verhaal. God se verbondsvolk se uitgerekte krisis het in die jaar 587 vC begin, toe Babilonië Jerusalem binnegeval het. Hulle het die Jerusalem-tempel vernietig, die Dawidiese koningshuis onttroon en die room van Jerusalem se inwoners in ballingskap weggevoer.
Te midde hiervan het hoopvolle verwagting by die Joodse volk bly leef vir herstel en heropbou van Judese onafhanklikheid, asook hervestiging van die Dawidiese monargie. Jeremia 23:5–6 en Esegiël 34:23–24 vertel van hul hoop en verwagting. Daardie drome het nooit gerealiseer nie. Die konings van Persië het Juda vir 200 jaar lank na die Babiloniërs beheer en is daarna opgevolg deur die Griekse en Romeinse ryke. Die boek Sagaria neem die werklikheid van die Joodse leefwêreld in die na-ballingskapperiode in oënskou. Hoofstukke 1–8 reflekteer die dekades direk na die terugkeer van die Joodse ballinge, terwyl hoofstukke 9–14 uit die volgende eeu kom, te midde van die Jode se groeiende frustrasie, met die Persiese heerskappy. In Nehemia 9:36-37 is ’n gebed uit dieselfde tydperk: “Oor ons liggame heers hulle, ook oor ons vee, soos hulle wil. Ons verkeer in groot nood.”
Die Israeliete uit ballingskap het hoë verwagtinge gehad oor die tempel en Juda wat uit die as gaan verrys, maar dit het nie so voorspoedig verloop as wat hulle verwag het nie. Sagaria troos en bemoedig die volk nou te midde van hulle teleurstelling met ’n na-ballingskapprofesie van hoop. Dit verbeel die terugkeer van ’n Dawidiese koning wat sal kom om die buurvolke te straf en sy volk te red.
Hierdie verse nooi hedendaagse lesers om aan te sluit by God se volk oor die eeue heen, in die hoop op en verlange na ’n meer regverdige wêreld vir almal. Die inval van Rusland in Oekraïne in 2022 en die geslagsmisdade van soldate in Soedan, skets ’n somber prentjie op die internasionale toneel vandag. Ook in Suid-Afrika leef die droom by baie landsburgers oor ’n nuwe bedeling waarin eerlikheid en diensbare leierskap die verval van infrastruktuur en dienslewering kan teenwerk en omkeer.
Die joernalis Max du Preez skryf op Maandag 3 Julie 2023 in Vrye Weekblad, oor 2024 se algemene verkiesing in Suid-Afrika, waarskynlik in Augustus. Hy meen die verkiesing kan ’n draaipunt in ons geskiedenis wees. Hy skryf oor wat hy dink die regerende party se strategie vir die verkiesing sal wees en die persoon wat hulle moontlik as Groot Vernuwer sal voorhou om stemme te trek.
Binne hierdie konteks hoor ons Sagaria 9:9-12 as ’n boodskap van hoop in ’n tyd van korrupsie en selfsugtige leierskap in Suid-Afrika. Sagaria 9:9 se koning wat aan’t kom is, is regverdig en die oorwinnaar, wat sy vyande oorrompel. Die paradoks is egter dat hierdie heerser ook beskryf word as nederig en dat Hy op ’n donkie ry, nie ’n oorlogsperd nie. Wat sê dit vir ons oor leierskap in ons dag?
Sagaria 9:10 verwerp geweld ondubbelsinnig, en beskryf hoe die nuwe heerser alle gevegsimplimente sal vernietig, óók die oorlogsperde. Hierdie nuwe koning sal vrede aan die nasies verkondig, terwyl hy universele (omvattende) wêreldheerskappy vestig.
Die Hebreeuse woord ‘ani word met ‘nederig’ vertaal in Sagaria 9:9 en beklemtoon Sagaria se identifisering van sy messiaanse koning met die armes en onderdruktes. Sy gebruik van die woord “nederig” vir die komende missiaanse koning, roep ook vir my en jou op om in nederigheid te luister na stemme uit ons gemeenskappe wat pleit om radikale verandering en geregtigheid.
In Sagaria 9:11-12 beloof God om Jerusalem se gevangenes te bevry, op grond van sy verbond met Israel. Dit word beskryf as “bloed van jou verbond.” Die beeld van die “waterlose put” verwys na Genesis 37:12, toe Josef se broers hom aan die Ismaeliete verkoop het, asook na Jeremia 38:6, waar die profeet onregverdig en onskuldig in gevangenis gewerp is. In vers 12 dui “hoopvolle gevangenes” daarop dat die Jerusalemballinge regverdige vergelding en regstelling kan verwag. Die Here beloof Hy sal sy volk dubbeld beloon …
Die Ou Testamentikus Margaret Odell wys op die hervorming van die ouer militêre tradisies deur skrywers van die na-ballingskap. Hulle herdefinieer die basis vir hoop teenoor die verwagting dat oorlogstuig die verlossing sal bemiddel. In terme van dié herdefiniëring ontvang Sagaria die opdrag van die Here aan Serubbabel: “Nie deur mag of deur krag nie, maar deur my Gees, sê die Here.” (4:6)
Die hoop van gelowige mense – ook in Suid Afrika – behoort in die finale instansie op God se teenwoordigheid in elke situasie te wees. Wanneer God se mense bevry word van hul ou verwagtinge, is hulle vry om te ontdek dat God op nuwe en onverwagte maniere, in en onder ons werk as “nederige koning (leier) op ’n donkie”.
Sagaria herinner ons as ‘hoopvolle gevangenes’ dat daar by God troos en sekerheid is!