Hoe kom die werkplek onder God se beheer in die stryd tussen goed en kwaad?

In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk
(Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)

 

Lees Daniël 12

 “Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word, maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd.”

 

Oordenking

Die gaping tussen wat ons in dié lewe weet en wat ons oor die toekomstige lewe nie weet nie, word slegs deur God oorbrug (H Berkhof). Ons hou nie die toekoms in ons eie hande nie, maar as gelowiges is die toekoms vir ons wesenlik belangrik. Daniël 12 leer geloofsmense het oë op die toekoms.

Geloofsmense verwag veel van die toekoms. Vers 1 leer egter dat die laaste dae, die einde, swaar tye sal wees. Volgens Daniël sal dit so swaar wees soos dit nooit was vandat daar nasies is nie. Paulus beskryf in 2 Timoteus 3:1 ’n prentjie van die mens van die eindtyd. Dit sal ’n swaar tyd wees, en dan sal baie van dié wat ontslaap het uit die graf opstaan, party tot die ewige lewe en party tot ewige skande en veragting.

In die lig van hierdie prentjie van die toekoms, is die vraag nou of die wêreld ’n beter of slegter plek word namate dit ouer word. ’n Bekende skrywer, James Denney, sê iewers dat dié wêreld na sy oordeel gelyktydig ’n beter en ’n slegter plek word. In die ontwikkeling van dié wêreld groei beide die goeie en die kwade. Die ontwikkeling van dié wêreld bring dus nie òf die goeie òf die kwade mee nie, maar die stryd tussen lig en duisternis, tussen die goeie en die kwade, tussen die hemel en die aarde.

Daniël 12:10 sê: “Baie menses sal gesuiwer, gereinig en gelouter word, maar die goddeloses sal goddeloos bly. Nie een van die goddeloses sal verstaan nie, maar die verstandige leiers sal verstaan.”

Ons leef reeds in die laaste dae, die tydperk tussen Jesus se opstanding en sy wederkoms. Ons is vasgevang in die kruisvuur van die stryd tussen hemel en aarde, tussen goed en kwaad. Ons leef in die goddelose tyd waarvan Paulus praat; ’n tyd waarin mense nog die uiterlike skyn van die godsdiens het, maar die krag van die godsdiens nie ken nie. Hoe kan ’n gelowige mens in dié dae leef? Hoe kom die werkplek onder God se beheer in die stryd tussen goed en kwaad?

Daniël 12:12-13 sê dat die gelowige geduldig moet aanhou tot die einde toe. Paulus sê vir Timoteus: “Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo” (2 Tim 3:14).

Geloofsvolharding, ’n doelgerigte lewe en om jou uit te strek na die toekoms waar Christus op die wolke kom, hang ten nouste saam met dit wat jy gister geleer het en vandag nog glo. Geloofsvolharding is slegs moontlik as die mens aan God se beloftes vashou, soos dié Daniël 12:1 aandui: “In daardie tyd sal almal uit jou volk wat in die boek opgeskryf is, gered word.” Met dié belofte word die geloofsmens aangevuur om op die toekoms af te pyl, gemotiveerd om die koninkryk van God aan te kondig. Want in die stryd tussen goed en kwaad is God se heerskappy te vestig.

Die geloof in God, sal ook die werkplek onder God se heerskappy stel. God se belofte in Daniël 12:13 staan vas: “Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word, maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd.”