MATTEUS 11:16-19, 25-30
In Koninkrykstyd van die Kerkjaar fokus die ekumeniese kerk wêreldwyd op Christus se heerskappy na sy hemelvaart, asook die navolging van Jesus deur sy dissipels op aarde. Die evangelielesing vir die sesde week van Koninkrykstyd in Jaar A, is Matteus 11:16-19, 25-30. Dit vorm deel van Matteus 11:2 tot 13:53, die derde onderdeel van Matteus se vertelling oor Jesus se aardse bediening. In dié afdeling begin weerstand teen Jesus opbou in vooruitsig op Jesus se latere verwerping.
In hoofstuk 11 kom boodskappers van Johannes die Doper na Jesus toe. Hulle vra of Hy die Een is wat sou kom en of hulle iemand anders moet verwag. In Jesus se antwoord spreek Hy die skare direk aan oor hulle geslag se slegte behandeling van beide Johannes die Doper en van Jesus Self. Jesus betreur dit dat die koninkryk van die hemele sedert die dae van Johannes die Doper ly onder geweld, terwyl geweldenaars probeer om dit in besit te neem (vers 12).
In vers 16-19 spreek Jesus tot “hierdie geslag” oor hoe hulle Johannes die Doper en die Seun van die Mens (Jesus) ontvang het. Vers 25-30 bevat drie gedeeltes wat op mekaar bou. Vers 25-26 behels ’n danksegging aan God vir sy openbaarmaking van “hierdie dinge” (betekenis van Jesus se bediening). Vers 27 is ’n uitspraak van Jesus oor die wedersydse kennis van die Vader en die Seun, asook “elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak.” In vers 28-30 rig Jesus ’n appél tot “almal wat vermoeid en swaar belas is” om sy juk op te neem en van Hom te leer. Dissipels leer immers van Jesus.
“Waar sien ons God in ons wêreld aan die werk,
asook waarvoor God ons nou roep?”
Matteus se vertelling raak verskillende temas aan wat vir ons as dissipels van Jesus toepaslik is. Vers 16-19 praat oor God se gestuurdes en sy doel met hul boodskap. Ons word uitgedaag om God se boodskappers en bedoelinge te verstaan. Vers 25-26 beklemtoon God se aktiewe betrokkenheid in ons wêreld. Hy openbaar die persoon en wil van Christus aan mense wat nie kan aanspraak maak op God se guns nie. Vers 27 herinner aan God se self-openbaring as sy vrye daad deur Jesus Christus. Hy ken die persoon en wil van God. In vers 28-30 roep Jesus almal op om hul beperkinge te erken, sy gesag te aanvaar en volwaardige dienende dissipels te wees.
In die lig van hierdie temas en perspektiewe kan ons mekaar uitnooi tot nadenke en meditasie oor vrae wat die teks oproep. Na aanleiding van vers 16-19 kan ons reflekteer oor waar ons God in ons wêreld aan die werk sien, asook waarvoor God ons nou roep. Vers 25-26 nooi ons uit om te besin oor hoe ons tot God nader om sy aangesig te soek in aanbidding, asook om lewenswysheid. In die lig van vers 27 kan ons luister na wat Jesus openbaar oor wie God is. Ons kan nadink oor die invloed van God in ons lewe en die verskil wat God aan ons bestaan maak.
Vers 28-30 daag ons uit tot helderheid oor wat die juk van Christus vir ons lewe behels. Praat met God oor die lewenswyse waartoe Hy jou/ons nou roep. Deel met mekaar as bedienaars oor die karakter van dissipels wat nou tot diens in God se koninkryk geroep word. Hoe vergelyk jy met wat Jesus vra en wat jy self dink koninkryksdiens in die wêreld vandag eis?