“Wie bestuur jou bus?”

In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk
(Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)

 

Lees Daniël 4:27

 “Daarom u majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou.”

 

Oordenking

 Alkoholiste Anoniem gebruik ’n metafoor vir terapie met dwelm- en drankafhanklikes. Hulle vra: “Who is driving your bus? Vir die afhanklike persoon raak die gewoontevormende middel gaandeweg ’n noodsaaklike kruk, ’n stuurwiel om die rigting te bepaal waarin dié persoon se lewensbus beweeg. Dieselfde vraag geld ook op die werksvloer: “Wie of wat motiveer daar jou gedrag en verhoudinge?”

Dié vraag en sy verskillende antwoorde is belangrik. Die lewe is vol insidente waarby die roete van die lewensbus aangepas moet word. Dan is die vraag: “Wie is in beheer van my lewe?” Dikwels moet God mense eers tot stillstand ruk om te erken dat hulle self, die stuurwiel van hul lewensbus uit God se hande geruk het. Kyk maar vir koning Nebukadnesar van Babel.

In Daniël 4:27 roep Daniël, nadat hy die koning se droom uitgelê het, vir Nebukadnesar op om hom tot God van die hemel te bekeer. Nebukadnesar moet erken dat God die Allerhoogste is en dat Hy oor al die koninkryke van die aarde mag het. Volgens vers 29 het die Here vir Nebukadnesar tyd vir selfondersoek toegelaat. God het vir Nebukadnesar twaalf maande kans gegee om uit sy lewensbus se stuurkajuit te skuif sodat die voorspelling van die droom omgekeer kan word, maar Nebukadnesar kon nie die stuurwiel vir God oorgee nie. Volgens vers 30 stap hy eerder op die dak van sy paleis, stoot sy bors trots uit en sê: “Kyk net hoe groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan ’n koningstad gemaak, tot my eer en roem.”

Die dwaas, Nebukadnesar, was skaamteloos hoogmoedig. Hy dink dat hy sonder God die Babiloniese Ryk kan regeer. Hy dink dat hy sy lewensbus self kan bestuur. Maar wanneer dwaasheid die oorhand kry, moet God ingryp. Nebukadnesar se woorde van dwaasheid en hoogmoed was skaars koud, toe kom daar ’n stem uit die hemel: “Daar is besluit, koning Nebukadnesar, dat jy uit jou koningskap onthef sal word.” Vers 33 sê die voorspelling het onmiddellik waar geword.

God het sy politieke mag vir sewe tydperke van hom weggeneem. Nebukadnesar het nagedink oor die vraag: “Wie bestuur my lewensbus?” Ons almal maak dikwels soos Nebukadnesar. Eers wanneer ons eie bestuursvernuf ons in ’n doodloopstraat beland, erken ons dat ons nie self die bus kan bestuur nie. Vers 34 sê: “Toe die vasgestelde tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, na die hemel opgekyk om hulp en het ek my verstand teruggekry.”

God word dikwels gedwing om ons aan ons eie keuses oor te laat. God is selfs bereid om die stuurwiel in jou opstandige hande te gee, sodat jy aan die einde van die pad kan erken dat Hy die Allerhoogste is. Die wonder van God se geduld met die mens is dat Hy vir ons genadetyd gee om ons dwaasheid te besef. God gee selfs vir die heidense koning Nebukadnesar nog ’n kans.

Die antwoord op die vraag, “Wie bestuur jou bus?” begin deur te luister na God se raad aan Nebukadnesar. Breek met jou dwaasheid en hoogmoed. Doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor dié wat in nood is. Ook in en om die werkplek geld hierdie beginsel.