In Woord en Werk.
Bybels nagedink in die wêreld van werk (Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)
Lees Deuteronomium 26:11. 12 (1933-vertaling)
“En jy moet vrolik wees oor al die goeie dinge wat die Here jou God jou en jou huis gegee het … as jy al die tiendes van jou opbrengs klaar afgesonder het … dan moet jy aan die Leviet, die vreemdeling, die wees en die weduwee gee, dat hulle in jou poorte kan eet en versadig word.”
In Deuteronomium 26:5-11, Israel se sogenaamde onthouboek, dink die Israeliete na oor die pad wat God met hulle geloop het. God roep hulle op om sy magtige dade te onthou. Hulle is losgemaak van die juk van Egipte. Hulle is met wonders en tekens tot in die beloofde land, Kanaän, gelei. God was op die pad dag en nag hulle beskutting. Onthou dit tog, sê die skrywer van Deuteronomium.
Om te onthou, bring groot verantwoordelikheid mee. As julle aan die Here se groot dade van trou dink – dat Hy julle in die beloofde land ingebring het – erken dit dan ook voor die gemeente. Neem daarby ’n deel van die vrugte op jou hande-arbeid saam met jou. Gaan staan daarmee voor die priester en getuig daar vrolik dat jou voorgeslagte geseën is en dat jy die vrugte daarvan uit God se hand geniet. Bring nou ook vir sy gemeente ’n deel van die vrug as ’n offer van dankbaarheid.
Al kan ek en jy nie op ons eie die verskriklike gaping tussen ryk en arm toemaak nie, of vir die weduwees en wese en oues van dae en siekes en hulle wat gebrek ly, genoegsaam sorg gee nie, kan die Here dit verseker doen … en Hy wil ons in dié proses gebruik.
Juis daarvoor kom staan Hy vandag by jou en my. Hy vra van ons erkenning dat dit wat ons het, die vrug op ons hande-arbeid, van Hom af kom. Hy seën en versorg ons, omdat Hy weer deur ons sy kerk en die behoeftiges van dié wêreld wil versorg.
Dit is die Here se bedoeling dat ek en jy baie dankbaar sal wees oor sy versorging en seën, en dat ons ons brood sal deel met ons minderbevoorregte broers en susters in die kerk en die talle behoeftiges om ons.
Hoeveel moet ek weggee vra jy dalk? Wel, dink na oor God se troue liefde en sorg. Vir ons het Hy sy enigste Seun Jesus gegee. En sy Seun het uit liefde sy eie lewe vir ons weggegee, tot in die dood.
Hoeveel moet jy en ek weggee, vra jy? Dink aan God se sorg en ervaar wat in jou hart roer. Besluit dan self op grond van jou dankbaarheid teenoor God.