Gebed vir laaste week in April

Na ’n gebed van H Veldkamp
(Eddie Orsmond, in Gebedeboek vir die lewe, 2007)

 

Lees Job 22:6-9; 2 Korintiërs 9:6-11

 

Jy het vir dié wat uitgeput was, nie water gegee nie en geweier om vir dié wat honger was, kos te gee … (Job 22:7)

God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk (2 Kor 9:8).

 

Ons Vader wat in die hemel is;

Christus het ons geleer om in ons gebede

heel eerste aan U te dink:

die heiliging van u Naam,

die koms van u koninkryk,

en u wil op aarde, soos in die hemel.

 

Maar, Jesus Christus, U laat ons ook toe

om vir die stoflike te vra:

ons brood vir elke dag.

 

As ons dan bid om vandag se brood,

word ons voor die verskriklike werklikheid gestel

dat sommige mense nie brood het nie,

maar daarna smag,

terwyl ander te veel brood het,

en die oorskiet weggooi.

 

Here, die broodvraagstuk sou seker kleiner wees,

as die wêreld u woorde gelowig uitgeleef het

en die woordjie “gee” beter verstaan het.

 

 

Saam met die wêreld staan ek skuldig voor U.

Ja, Here, ook ek word deur my oorvloed verblind,

sodat ek die nood van hongeriges en armes miskyk.

Ek bely, Here, dat ek die brood wat U vir my gee,

vir myself hou.

 

Here, ons is so gierig

dat die woordjie “gee” ons nie meer herinner

aan alles wat ons uit u hand ontvang nie.

Ons het verleer om daagliks uit u hand te leef,

en om alles van U te verwag.

Ons het boonop nie geleer om ook aan ander

te gee van wat ons ontvang nie.

 

Here, leer ons weer

om vir ander lewensmiddele deur te gee,

omdat U dit daagliks onverdiend vir ons doen.