(Eddie Orsmond, in Gebedeboek vir die lewe, 2007)
Lees Matteus 5:1-3; 6:7-8, 11-12
Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is (5:3)
Gee ons vandag ons daaglikse brood (6:11)
Here, U leer ons om vir “vandag” te bid,
vandag se lewensasem,
vandag se behoeftes,
vir genoeg van wat nodig is,
vir tevredenheid met wat U gee,
vir werksgeleenthede en fisieke gesondheid –
alles as tekens van u sorgende liefde,
nie as simbool van eie prestasie nie.
Leer my, ons Vader, die lewenshouding
om uit u hand te lewe
in plaas van op my eie, valse sekuriteit te vertrou.
Leer my om te lewe
volgens die ekonomie van genoeg –
genoeg lewensmiddele vir vandag,
niks meer nie …
’n ekonomie met ’n hart vir armes en tuisteloses.
Ons bid vir elke dag se brood,
omdat ons daarvoor van U afhanklik is,
en ons weet die behoefte sal môre
maar weer ontstaan …
Ons Vader, leer ons afhanklikheid van U.