Jesus sal die tempel in drie dae herbou

Derde Week van Lydenstyd Jaar B: Vrydag 8 Maart 2024

JOHANNES 2:13-22

Die Revised Common Lectionary neem ons hierdie week na Johannes se vertelling van Jesus se verhaal. In hierdie toneel reinig Jesus die tempelterrein in Jerusalem van handelaars en geldwisselaars wat daar goeie besigheid doen met die aanbidders wat kom om offers vir God te bring.

Dit is opvallend dat Matteus, Markus en Lukas (Sinoptiese evangelies) hierdie toneel later in hulle vertelling plaas in die week voor Jesus se kruisiging, dood en opstanding. Dit is juis die rede waarom ons dié gebeurtenis in Lydenstyd oordink. In Johannes se vertelling is die tempel reiniging insident aan die begin van Jesus se bediening. Dit beklemtoon Hy is inderdaad die Lam van God (1:36). Jesus sal alle offerpraktyke en -sisteme vervang. Hy is/sal die Nuwe Tempel word waarna Johannes 2:21 verwys.

Johannes 2:13-22 lê ’n eksplisiete verband tussen die tempelterrein insident en Jesus se kruisiging en opstanding. Jesus se antwoord op die Jode se versoek in vers 18 vir ’n teken as bewys dat Hy die dinge doen, het die Jode verwar. Die tipiese Johannese stelwyse is hier ter sprake. In vers 19 voer Jesus aan Hy breek die tempel af en bou dit in drie dae op. Die Jode interpreteer dié uitspraak letterlik en dink Jesus bedoel die fisiese Jerusalem Tempel, terwyl Hy die tempel van sy liggaam bedoel. Dieselfde misverstand hoor ons byvoorbeeld in Johannes 3:3-7. Nikodemus verstaan nie Jesus se verwysing na die wedergeboorte (gebore van bo) nie. Die Samaritaanse vrou in Johannes 4:10-16 verstaan ook nie Jesus se uitspraak oor die water wat Hy voorsien om die dors vir ewig weg te neem nie.

Johannes verbind die gebeure op die tempelterrein met Jesus se kruisiging en opstanding in vers 22. Johannes noem ’n belangrike aspek van dissipelskap en navolging van Jesus, naamlik om te onthou. Twee keer skryf Johannes dat die dissipels onthou het dat daar geskryf staan (vers 17) en wat Jesus gesê het (vers 22). Dissipels van Jesus leef uit wat hulle onthou oor wat Jesus gesê en gedoen het. Navolging van Jesus is gebaseer op voortgaande herinnering aan die Skrif.

Die dissipels onthou wat Jesus gesê het oor die afbreek en opbou van die tempel, nadat Hy uit die dood opgewek is. Jesus se dood en opstanding uit die dood, ontsluit vir die dissipels die diep betekenis van Jesus se leer en verkondiging terwyl Hy op aarde was. Die dissipels het soos die Jode ook nie altyd verstaan wat Jesus gesê het nie. Veral in die vroeë stadium van Jesus se bediening was hul insig beperk.

Wat vir ons belangrik is in Lydenstyd is dit wat die dissipels onthou oor wat Jesus op die tempelterrein gesê het en dat hulle die Skrif en die woord geglo het wat Jesus daar gespreek het. Lydenstyd help ons om te onthou en verbande te lê tussen Jesus se bediening en sy opstanding uit die dood. Die teken waarvoor die die Jode gevra het is gegee in Jesus se opstanding uit die dood. Dit het die dissipels laat glo in Jesus as Here. Hy is die inhoud van ons geloof as dissipels.

Die bediening van hierdie boodskap is aan ons toevertrou.