Dank God vrygekooptes

(Gebed na aanleiding van Psalm 107:1-3, 17-22)

Dank, prys, dankoffers, jubelkrete.
Die woordeskat van gelowiges, Here –
van mense wat u troue liefde in hul nood
gesien en beleef het.

Here, in Lydenstyd rig ons die oë –
saam met geloofsgenote op Jesus.
Ons herken onsself as diegene vir wie
die psalmis oproep om U te dank.

Ek wil U dank, Here, saam met hulle.
Ons getuig dat U ons vrygekoop het.
Die Lydende Christus het my/ons gesien
waar ons koersloos rond swerf.

U het ons byeengebring, Here –
want U is goed!

Here, ek herken myself ook as ’n dwaas –
wat skuld moet dra vir my eie teistering.
U ewige troue liefde het my/ons geroer,
om uit ons/my nood tot U te roep.

Lydenstyd herinner dat U antwoord op ons noodroep, Here.
U Christus het ons uit ons benoudheid verlos.
Hy, u gestuurde Woord het ons genees,
ons vangkuile oopgebreek.

Ons dank U, Here. U is goed.
Die dwase het u troue liefde gesien.

Nou begeer ek/ons om verder te gaan, Here –
as net die woordeskat van geloof.
Ons wil dankbaarheid doen en wees.
Ontvang my/ons jubelkrete en dankoffers.

Hier is ek, Here, u dankbare vrygekoopte.

Amen