Verhoog die seun van die mens

Vierde Week van Lydenstyd Jaar B: Vrydag 15 Maart 2024

JOHANNES 3:14-21

Ons volg die Revised Common Lectionary (RCL) vir Johannes se vertelling van Jesus se verhaal. In dié toneel is Jesus aan die begin van sy aardse bediening in gesprek met ’n leier van die Jode, Nikodemus, ’n man uit die geledere van die Fariseërs. Hy kom in die geheim na Jesus toe, onder bedekking van die nag se donker. Nikodemus wil van Jesus weet of Hy van God af kom, aangesien die tekens wat Jesus doen (Joh 2:23-25) alleen moontlik is as God met Hom is (Joh 3:2). In vers 11 konfronteer Jesus Nikodemus omdat hy en ander nie Jesus se getuienis wil aanvaar nie.

In vers 13 gryp Johannes vooruit, soos in hoofstuk 2:22. Hy verbind Jesus se menswording (“Hy wat uit die hemel neergedaal het…”) met sy toekomstige hemelvaart (“niemand het na die hemel opgevaar nie”), ná sy kruisiging en opwekking uit die dood. Jesus beklemtoon die enigste persoon (wese) wat aan dié maatstaf voldoen, is die Seun van die Mens. Nikodemius en “julle” na wie Jesus in vers 12 verwys, glo nie in dié stadium Jesus is inderdaad die Seun van die Mens nie.

Ons lees dié Skrifgedeelte in Lydenstyd. Dit vestig ons aandag op Jesus se komende kruisiging. Vers 11-21 belig Jesus se rol in die verlossing van die wêreld. Vers 14 wys op die Ou-testamentiese verhaal in Numeri 21:4-9. Die koperslang op ’n paal in die woestyn is teken (simbool, metafoor) van Jesus se kruisiging. In Numeri het die slang op die paal ’n tweeledige betekenis: God se straf vir, asook God se vergifnis van die volk se sonde. Elkeen wat na die slang kyk het bly leef (Num 21:8).

Johannes se boodskap met verwysing na Numeri is dat Jesus as Seun van die Mens verhoog moet word. Hy moet herken en erken (bely) word as dié Een wat uit die hemel neergedaal het. Omdat Nikodemus en ander egter nie glo Jesus het van God gekom nie (vers 2), sal Jesus se verhoging eers aan die kruis voltrek word. Wanneer Christus aan die kruishout opgelig word skep God geleentheid vir geloof (herkenning en erkenning) in Hom. Wie in die Gekruisigde glo, sal die ewige lewe hê.

In vers 17 brei Jesus uit op God se bedoeling om Jesus na die wêreld toe te stuur. God wil die wêreld deur Jesus verlos. Dit beteken, wie in die Naam van die unieke Seun van God glo, word nie veroordeel nie (vers 18), maar sal die ewige lewe hê (vers 16). Jesus beskryf God se oordeel met behulp van die lig-duisternis metafoor. Die lig het na die wêreld gekom, maar die mense het die dusiternis lief gehad, omdat hulle dade boos was.

Vir ons nadenke oor dissipelskap en ’n regte verstaan van wat navolging van Jesus in Lydenstyd behels, is twee kante van die ewige lewe ter sprake. Enersyds behels dit lewe na die dood in God se teenwoordigheid. Andersyds is die ewige lewe God se grootste gawe aan die mens. In Christus se sterwe aan die kruis, gee God sy eie lewe aan die mens. Dit is nie beperk tot ’n toekomstige bestaan nie. Dit het ook direk betrekking op die lewe hier en nou.

Die ewige lewe behels ’n deurlopende verhouding met God deur geloof in Jesus Christus. Hy het Self die lewe van God in die lewe van mense ingebring – nou en vir altyd. Daarom moet ons die Seun van die Mens verhoog, soos Moses die slang in die woestyn op ’n paal verhoog het. Die Seun van die Mens verlos ons van sonde en gee die ewige lewe, want Hy ís die Ewige Lewe, die Weg na die Vader.