GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 18 MAART 2024
RCL JAAR B – VYFDE WEEK VAN LYDENSTYD
(Gebed na aanleiding van Psalm 51)
O God, in Jesus se lyding –
herken ek my diepste nood:
ek het teen U gesondig, ja,
my sondeskuld is ingebore,
deel van wie ek is.
Deur die lydende Here,
herken ek my sondeskuld,
ek erken ek verdien u oordeel.
Dit roer die bewussyn diep binne,
dat U God is wat verlos.
Tog is my ingebore sondigheid nie finaal nie.
U is genadig, God van troue liefde
en groot ontferming.
U, o God, skep my in my moederskoot.
Ek bly in u skeppende hande,
U is nie klaar met my nie.
Sit u skeppingswerk voort, Here.
Laat my juig oor u geregtigheid.
Uit die herkenning van my sondeskuld
en erkenning ek verdien u oordeel,
groei die belydenis van my skuld voor U.
Ek begeer dat U my sonde uitwis,
en ek witter as sneeu kan wees.
Here, ek wil vreugde en blydskap in U ervaar.
Gee my ’n bestendige gees in my binneste.
Ek wil in u teenwoordigheid leef, Here –
die krag van u Heilige Gees in my voel,
en oortreders u paaie leer.
U is genadig, God van troue liefde en ontferming.
U het my verlos en verlange na U gewek.
Ek juig oor U wat in my ’n rein hart skep.
My lewe verkondig u lof.
Amen