Vyfde Week van Lydenstyd Jaar B: Vrydag 22 Maart 2024
JOHANNES 12:20-33
Die Christelike Jaar (Kerkjaar/Liturgiese Jaar) beweeg na die einde toe van Lydenstyd en Paasfees. Volgende week is Groot Lydensweek met Goeie Vrydag, Stil Saterdag en Paassondag. Die Revised Common Lectionary (RCL) se aansluiting by Johannes 12 vir die lydensverhaal, fokus op ’n kern toneel in Jesus se bediening. Die aankoms van ’n aantal Grieke in Jerusalem vir die Pasga fees, bring ’n draaipunt in Jesus se aardse lewe. Die groep Grieke vra vir Filippus om Jesus te sien. Jesus interpreteer hulle versoek as die uur waarop die Seun van die Mens verheerlik moet word. Ons Skrifdeel lei die gebeure in van Jesus se laaste week voor sy kruisiging en opstanding (sy verheerliking).
Die Grieke wil Jesus sien. Ons Skrifdeel dui nie aan of dit gebeur het nie. Johannes vertel dat Jesus wel ’n aantal uitsprake maak wat ons (en die Grieke) laat ‘sien’ wie Jesus inderdaad is. Die gelykenis oor die koringkorrel wat in die grond val en sterf (vers 24) wys op Jesus se naderende kruisdood en dat sy dood vir baie mense die lewe as vrug bring. Die koringkorrel beeld lei Jesus na die tema van lewe. Hy daag sy gehoor (ons) uit om hul prioriteite oor lewe te oorweeg: liefde vir lewe in dié wêreld, of behoud van die ewige lewe deur geringskatting van lewe in dié wêreld.
Die tema van dood en lewe lei Jesus vervolgens om te praat oor diens aan en navolging van Hom. Hieroor moet sy dissipels goeie begrip hê. Die keuse om Jesus te dien beteken om Hom te volg, ook deur sy lyding heen, tot aan die kruis waarheen Hy op hierdie punt in die verhaal op pad is. Jesus beklemtoon die verbondenheid (eenheid) tussen Hom en sy volgelinge (dissipels): “…waar Ek is, daar sal my dienskneg ook wees.” (vers 26) Jesus maak ook ’n belofte aan diegene wat kies om Hom te dien (te volg), naamlik dat die Vader iemand sal eer wat vir Jesus dien (vers 26).
In vers 27 keer Jesus terug na die tema van vers 23, naamlik “die uur”. Jesus spreek sy ontsteltenis uit oor die ontsetting van die naderende kruisdood en dat die uur daarvoor aangebreek het. Hy roep sy Vader aan in die lig van dié dodelike realiteit, maar verklaar onmiddellik dit is presies die wese van sy gestuurde roeping in die wêreld. Daarvoor het Hy mens geword. Wie Jesus wil sien (soos die Grieke) moet Hom sien as veragte Gekruisigde. Nietemin, in Hom is die Vader se Naam verheerlik (vers 28). Die stem uit die hemel wat aankondig die Vader het sy Naam verheerlik, kondig ook die uur van oordeel oor die wêreld aan. In die uur waarvoor Jesus gekom word Satan ook uitgedryf (oorwin).
Ons Skrifdeel eindig met Jesus se uitspraak oor watter dood Hy sterf. Jesus word van die aarde af verhoog as veragte aan ’n kruishout. Dit moet elkeen sien wat kies om Jesus te dien. Die hoop vir ons wat Jesus vandag dienend wil volg, bestaan daarin dat Hy deur sy verhoging aan die kruishout, almal na Hom toe trek. Almal! Ook die Grieke. Elkeen wat kan sien die Gekruisigde Jesus is die Seun van die Mens, sal Jesus na Hom toe trek. Omhels dié belofte en vertel dit oral en aan almal.