GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 18 MAART 2024
RCL JAAR B – GROOT LYDENSWEEK
(Gebed na aanleiding van Psalm 31:10-16 [2020-vertaling])
Drie-enige God, in Groot Lydensweek –
herinner die pleit om genade in vers 10,
my eerstens aan Jesus se wroeging,
op weg na sy kruisdood op Golgota.
In die lig van u offer, Here Jesus –
kry die woorde benoud, verdriet en kommer
’n onpylbare diepte dimensie.
U kragte het gekwyn oor mý sondelas.
Ja, as ek die kruistog gadeslaan, my Heer –
hoor ek die gespot van u aanklaers.
Selfs u naby volgelinge het van U gevlug,
omdat U ’n verskrikking geword het vir hulle.
Groot Lydensweek herroep tonele,
van kwaadpratery teen U, Here;
sameswering en fyn beplanning,
om uiteindelik u lewe te neem.
Dié God- en mensonterende tonele –
speel dié week voor my af,
as die psalmis benoud en vol verdriet
om genade pleit by U, Here my God.
Wanneer ek dan my eie sorge voor U lê –
en die raam van Jesus se kruistog daarom trek, my God,
weet ek van net een adres vir my roep om genade;
Op U, Here vertrou ek.
Ek weet nou my tye is in u hand.
U alleen kan my red van enige gevaar.
U het u Seun vir ons aan die kruis laat hang.
Die Seun van die Mens het U troue liefde,
aan ons openbaar.
U is my God! U is ons God!
Amen