TOERUSTING VIR DISSIPELSKAP IN DIE WêRELD VAN WERK EN DIENSLEWERING
Sesde Week van Lydenstyd Jaar B: Vrydag 29 Maart 2024
MARKUS 14:1-15:47
Die Revised Common Lectionary neem ons na die Markus-evangelie vir Jesus se laaste bedieningsweek op aarde. Belangrike temas vir dié week in die Markus-evangelie oor Jesus se dood is, dit: (i) openbaar en beliggaam God se wil; (ii) is die aflossing van skuld. Hy gee sy lewe vir baie; (iii) is plaasvervangend, ter wille van die mensdom; (iv) is ’n oorwinning. Hy openbaar God se reddende krag; (v) beteken bevryding vir die mensdom.
Die vraag oor Jesus se identiteit (“Wie is Jesus?”; “Wie kan Hy tog wees?”) kom herhaaldelik in Markus 14:1-15:47 voor. Die hoëpriester vra in 14:61 vir Jesus: “Is jy die Christus, die Seun van die Lofwaardige?” Pilatus vra in 15:2 vir Jesus: “Is U die koning van die Jode?” Die inskripsie van die aanklag teen Jesus bo aan die kruis herhaal die tema (15:26): “Die koning van die Jode.” Uiteindelik hoor ons die belydenis op die lippe van die Romeinse centurio in vers 39, nadat Jesus sy asem uitblaas: “Hierdie man was werklik Seun van God!”
Die hele Markus-evangelie wil doelbewus die titel, ‘Seun van die Mens’ definieer. Ons kan eers verstaan wie Jesus Christus is, wanneer ons Hom regdeur die Evangelie navolg as die Seun van die Mens. Uiteindelik leer ons deur die Lydensverhaal heen wie Jesus as die Seun van die Mens is, wanneer ons Hom sien as die Een wat aan die kruis sterf. Daar lê Hy sy lewe af ter wille van die mense en verlossing van die mensheid.
Sommige geleerdes verdeel die literêre eenheid van Markus 14:1-15:47 in agt onderafdelings. Ons neem daarvan kennis (14:1-11; 14:12-25; 14:26-52; 14:53-72; 15:1-15; 15:16-32; 15:33-39; 15:40-47). Die aanvang van dié literêre eenheid verteenwoordig die draaipunt in Jesus se aardse bediening. Die lot wat Jesus in die voorafgaande twee hoofstukke aangekondig het oor die Tempel se vernietiging, gaan nou met Hom gebeur. Verderaan fokus Markus se vertelling volledig op die komende kruisiging van die Messias.
Nog ’n belangrike tema in die Markus-evangelie is dié van integriteit. Vir ons nadenke oor dissipelskap en navolging van Jesus is dié tema relevant. Markus vergelyk Jesus onder andere met Petrus. Jesus behou sy integriteit ten koste van sy lewe, terwyl Petrus sy integriteit verloor ten einde sy eie lewe te probeer red. Die besonderhede van Petrus se mislukking belig juis Jesus se afsondering (‘solitariness’) binne dié konteks. As Messias het die oomblik vir Jesus se individuele optrede nou aangebreek. Hy moet alleen deur die uur gaan.
Jesus verskyn voor die hoëpriester. Dit loop op tot ’n klimaks met Kajafas se ondervraging oor Jesus se integriteit. Hy word beskuldig as vals profeet wat Israel verlei. Die regters was vaagweg bewus dat Jesus se optrede in die Tempel ’n bedekte aanspraak op koninklike gesag inhou. Jesus se antwoord op Kajafas se ondervraging lei daartoe dat Hy aan Pilatus oorgegee word as rebelle koning en aan die Joodse bevolking as lasterende profeet wat Israel mislei.
Wie is Jesus vir jou, noudat die Groot Lydensweek sy einde nader?